Aristoteles het gesê dat musiek die mag het om die karakter te vorm en daarom by die opvoeding van jongmense ingesluit behoort te word. Hierdie aanhaling pas goed by die Noordwes-Universiteit (NWU) se navorsingsnisarea Musiekkunste in Suid-Afrika: Hulpbronne en Toepassings (The Musical Arts in South Africa: Resources and Applications, MASARA).
MASARA is deel van die Skool vir Musiek en Konservatorium en hulle fokus is musiek en welstand deur musiek. Die navorsingsnisarea fokus ook op die bewaring en gebruik van inheemse musiek, en het in November 2008 tot stand gekom.
“Ons verskaf deur musiek en welstand toegang tot musiek aan mense wat nie musiekopleiding gehad het nie. Ons doen dit deur te fokus op onderwerpe soos mense in die bedryf wat voorheen benadeel is en teen wie daar gediskrimineer is, soos swart komponiste en vroue. Dit is ’n indirekte manier om welstand te skep deur op kwessies soos hierdie te fokus,” sê prof Chris van Rhyn, MASARA se navorsingsdirekteur.
MASARA se navorsing sentreer rondom temas soos etnomusikologie en musikologie, musiekopvoeding, religieuse musiek, uitvoerings en navorsing, gemeenskapsprojekte en kreatiewe toepassings, en musiek en sielkunde.
Hulle doel is ook om die kollektiewe kennis van uiteenlopende musiekervarings uit te brei en relevante navorsing, asook kreatiewe uitsette in musiek en welstand, in ’n nasionale en internasionale opset te ontwikkel. Dit sluit in dat ’n samewerkende navorsingskultuur nagejaag word wat maatskaplik relevant is en wetenskaplik erken word.
MASARA hou toesig oor die ses nagraadse programme in musiek, en hulle produseer navorsingsuitsette en kreatiewe uitsette soos musiekuitvoerings en musiekkomposisies.
Volgens prof Van Rhyn het die tipes navorsing wat hulle doen na ander gebiede in Suider-Afrika uitgebrei. Dit is iets waarop hy baie trots is. “Daar is altyd oorweldigende moontlikhede vir navorsing. Ons doel is om navorsing op openbare platforms toeganklik te maak sodat dit ’n impak kan hê.”
Navorsing en gemeenskapsbetrokkenheid
Een van hulle fokuspunte in navorsing is gemeenskapsmusiekprojekte. Hulle het in 2021 ’n studie met die titel “Social cohesion through community music (SoCoMe)” uitgevoer. Hulle gaan na gemeenskappe en leer mense hoe om musiek te maak terwyl hulle saam met hulle musiek maak en ’n gevoel vir musikale kohesie skep. Een van die terreine van die SoCoMe-projek was die Musikhane-projek, wat deur die Skool vir Musiek bedryf word.
Die Musikhane Gemeenskapsmusiek-betrokkenheidsprogram (Musikhane Community Music Engagement Programme) streef daarna om geleenthede te skep vir betekenisvolle musikale ervarings vir leerders en studentonderwysers wat by die gemeenskapsmusiekprogram betrokke is.
“Musikhane verbeter die lewens van lede van die gemeenskap deur groter toegang tot betekenisvolle musiek en opvoedkundige ervarings te verskaf. Deelnemers ondersoek deur musiek en beweging wat dit beteken om deel van ’n gemeenskap van leerders te wees, en ontwikkel terselfdertyd hulle musikale en sosiale vaardighede.”
Prof Van Rhyn sê studentonderwysers ervaar die opwinding en frustrasies van onderwys in ’n werklike opset, en dit rus hulle toe om toekomstige musiekonderwysers en gemeenskapsmusiekpraktisyns te word.
Vir verdere inligting oor die Musikhane Gemeenskapsmusiek-betrokkenheidsprogram, kontak asseblief vir dr Janelize Morelli, wat die programleier vir die diploma in musiek by die Skool vir Musiek en Konservatorium is.
Prof Chris van Rhyn