Martiné Jordaan trek Protea-keurders se aandag

Sy is allermins ’n hemelbesem, en op die netbalbaan word sy dikwels deur wolkekrabbers omring. Hart en durf word egter nie in sentimeters gemeet nie, en die Noordwes-Universiteit (NWU) se Martiné Jordaan is ʼn vuurvreter op die baan soos min.

Selfs so dat sy die keurders van die Protea-span se oog gevang het, en van 22 tot 28 Januarie was sy deel van ʼn nasionale oefenkamp in Stellenbosch.

Hier het al haar onverskrokkenheid weer na vore gekom, maar sy sê sy ondergaan ʼn groot gedaanteverwisseling wanneer sy die baan verlaat.

“Ek dink mense sal verbaas wees as hulle hoor ek het ’n sagte persoonlikheid en dat ek baie teruggetrokke is. Ek is lief daarvoor om saam met my vriendinne te gaan koffie drink by verskillende koffiewinkels in Potch, en om so af en toe op die plaas te wees,” het sy uit die Eikestad laat weet.

Martiné het in 2020 aan Potchefstroom Gimnasium gematrikuleer, waarna sy Farmasie by die NWU se Potchefstroomkampus begin studeer het.

Nou leef sy haar netbaldroom ten volle uit: “Ek vind dat netbal by die NWU regtig iets besonders en uniek is. Dit is ’n kultuur wat jy nie maklik by ’n ander universiteit sal kry nie.”

Haar vennootskap met netbal het langs die Mooirivier begin.

“Ek het my passie vir netbal op skool gevind, en het dadelik ʼn liefde daarvoor ontwikkel omrede ek baie kompeterend is. Wat ek die meeste van netbal geniet, is om nuwe mense te ontmoet en dat almal saam kan werk om ʼn gesamentlike doel te bereik. Die hoogtepunt van my netbal tot dusver is vir seker toe ek vir die President XII-span gekies is en toe ek nou genooi is om in die proewe vir die Proteas te speel. Ek sal graag vir die nasionale span wil speel en eendag oorsee gaan netbal speel,” het sy gesê.

Sy beskryf haar werkverrigting en haar aanhouer-wen-houding wanneer dinge nie klopdisselboom op die baan verloop nie as haar sterk punte, hoewel sy nog nie haarself as die afgeronde produk sien nie: “Ek kan nog aan my kommunikasie met ander werk sodat ek deur my aksies ʼn leier kan wees.”

Terug na die maatband toe – dié is vir haar ʼn dryfveer.

“Wat my die meeste aanmoedig, is dat ek graag ’n inspirasie vir die kleiner netbalspelers wil wees deur vir hulle te wys dat enige iets moontlik is as jy jou hart daarop sit.”

En jou hart vir jou span gee.

“Hoewel ’n mens as ’n individu op die netbalbaan raakgesien word, is netbal ’n spansport. Ek sou dus niks sonder my span kon bereik nie.”

Die voorlopige Protea-oefengroep is ná afloop van die proewe van 30 spelers tot 25 verminder.

Sy is een van daai 25.

....

Martiné Jordaan

Submitted on Fri, 02/02/2024 - 10:05