Marlene se onwrikbare veggees

Dit is baie opwindend om ’n universiteitstudent te wees, maar dit is ook op soveel vlakke baie uitdagend: om ’n loopbaan te beplan, jou tyd te bestuur, en, vir Marlene Taylor, om uit te vind dat sy nierstene het.

Die 23-jarige Marlene Taylor kom van Vanderbijlpark en is die jongste van drie kinders. Sy het in 2017 by die Noordwes-Universiteit se Vanderbijlparkkampus vir haar BA-graad in Taal en Literatuurstudie ingeskryf en studeer tans vir haar Nagraadse Onderwyssertifikaat (NGOS).

“Toe ek op hoërskool was, was ek altyd by vakansieprogramme vir kinders betrokke en dit is daar dat ek besef het dat ek graag eendag ’n onderwyser wil word,” sê Marlene.

Sy het nog altyd ’n passie vir tale gehad, wat die rede is waarom sy eendag Engels sowel as Afrikaans wil gee.

Sy het aan die begin van Julie begin siek voel. Sy is by Cormed toegelaat, waar die uroloog haar gediagnoseer het, en bevestig het dat sy nierstene het.

“’n Vriend van ons familie het die fondse verskaf vir die noodprosedure om stents (dun buisies wat in jou ureter geplaas word om die vloeistof van die niere te help dreineer en verdere verstoppings te voorkom) in te plaas.”

Sy is ná ’n week uit die hospitaal ontslaan en sy leef intussen met die stents saam en wag vir ’n manier om die nierstene verwyder te kry.

Die stents veroorsaak toenemend komplikasies, soos dat sy herhaalde infeksies kry wat erge pyn veroorsaak.

“Sommige dae is beter as ander, maar die pyn is nooit weg nie.”

Sy noem ook dat haar ma en ’n goeie vriendin van haar vir haar sorg. Met dié dat hulle haar help, kan sy op haar studies fokus, veral wanneer die pyn draaglik is.

Dit is uitdagend om met haar akademiese werk by te bly omdat sy newe-effekte as gevolg van die medikasie ervaar, waarvan een vermoeidheid is.

“My dosente was nog die hele tyd baie ondersteunend. Hulle gee my uitstel vir my werkopdragte en hulle bespreek altyd alternatiewe vir sekere opdragte met my, iets wat ek werklik waardeer,” sê sy.

Voor haar diagnose het Marlene ’n menigte moontlikhede vir haar toekoms oorweeg. Sy beplan om eendag die wêreld vol te reis, en sy sou graag haar studies in Afrikaans wou uitbrei. Haar lewe het egter verander nadat sy die diagnose ontvang het, en nou beplan sy ook om fondse in te samel vir mense wat mediese hulp vir nierverwante kwessies benodig.

“Ek wil graag mense in hospitale besoek wat in dieselfde situasie as ek is net om vir hulle te sê dat hulle nooit moet toelaat dat mense hulle laat sleg voel omdat hulle chronies siek is nie, en dat hulle mooi na hulleself moet kyk en geduldig moet wees. Hulle moet ook weet dat alle dinge vir God  moontlik is en dat hy vir hulle vrede sal bring wat ver bo hulle begrip is.”

Een van haar gunstelingaanhalings is “Vier dit dat jy lewe”.

Dr Christiaan Barnard het eenmaal gesê “Vier wat jy het, eerder as om te kla oor dit wat jy nie het nie, omdat in die tuin van onthou, die gelukkigste oomblikke altyd die helderste blomme is.” Hierdie aanhaling pas by Marlene omdat sy ’n onwrikbare veggees openbaar en dankbaar is vir die gawe van die lewe.

Sy wil graag haar dankbaarheid uitspreek teenoor die personeel van die Noordwes-Universiteit wat, volgens haar, die hele tyd hulpvaardig en ondersteunend is.

“Baie van my dosente en voormalige dosente het gehelp met die fondsinsameling deur self iets by te dra of deur die inligting te plaas en wyd te deel,” sê Marlene. Openbare hospitale kan nie help nie omdat hulle probleme as gevolg van Covid-19 ervaar.

Die fondsinsameling was suksesvol en die operasie sal die 8ste Oktober 2020 plaasvind.

Klik hier om meer oor haar toestand uit te vind

,

Marlene Taylor

Submitted on Fri, 10/02/2020 - 15:56