Mahikengkampus vier Wêreld Intellektuele Eiendom Dag: maak wiskunde pret en beveg honger

deur Vukosi Mathale

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het op 25 en 26 April Wêreld Intellektuele Eiendom Dag 2024 met lewendige geleenthede regoor ons Mahikeng- en Potchefstroomkampusse gevier. Hierdie jaar se tema het daarop gefokus om intellektuele eiendom te gebruik om die Verenigde Nasies se 17 Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (SDG’s) te bereik, en het ’n entoesiastiese skare van studente, navorsers en verteenwoordigers van verskillende staatsagentskappe gelok.

Onder die hoogtepunte op die Mahikengkampus was uitstallings van twee van ons gerekende navorsers, dr Petro Erasmus en prof Sydney Mavengahama, wat die gehoor se aandag vasgevang het met hulle praktiese ondernemings om SGG 2 (Geen Honger) en SDG 4 (Gehalte-onderwys) te bereik.

Dr Petro, ’n opvoedkundige sielkundige, het haar opregte missie gedeel om die vrees rondom wiskunde die nek in te slaan. Sy het instemmende knikke van die gehoor gekry toe sy gesê het “Elkeen het ’n wiskundestorie, en dis hartseer dat die meeste van ons ’n minder aangename herinnering van wiskunde op een of ander tyd in hulle lewens het.” Dr Petro se innoverende benadering behels die bekendstelling van leermetodes wat spelenderwys aangeleer word deur haar Whartels® Math-speletjie, en sagte speelgoed om wiskunde vir kinders genotvol te maak en hulle vrees met pret te vervang.

Dr Petro se navorsing het tot die skepping van ’n maatskappy, PENPlay, gelei, wat die Let's Really Play Maths-program bied waardeur sy hoop om so veel kinders as moontlik te bereik sodat ’n gehalte-opvoeding vir almal verwesenlik kan word.

Prof Sydney het die lig op die potensiaal van antieke graansoorte, soos sorghum, laat val sodat honger bestry kan word. Hierdie graansoorte is diep gewortel in ons erfenis, en het op ’n tyd as stapelvoedsel gedien voordat mielies ons moderne diëte begin oorheers het. Prof Sydney het die gesondheidsvoordele en veerkragtigheid daarvan ten opsigte van klimaatsverandering beklemtoon en ook hulle beduidendheid om voedselsekerheid te verkry.

Die voedingsvoortreflikheid van sorghum en antieke graansoorte, met hulle hoë proteïeninhoud en glutenvrye aard, het veroorsaak dat hulle wêreldwyd op gesondheidsvoedselmarkte na vore kom. Die onderbenutting daarvan in Afrika verleen egter ’n groot geleentheid vir innovasie en ekonomiese groei.

Prof Sydney het b jongmense in Afrika aangemoedig om kommersiële boerdery met hierdie graansoorte te oorweeg en om nuwe produkte te ontwikkel. Hy het die behoefte aan selfonderhouding beklemtoon wanneer ons inheemse hulpbronne benut word.

Die inherente aanpasbaarheid van inheemse sorghum en antieke graansoorte vir toestande in Afrika bied ’n sprankie hoop onder al die uitdagings van veranderlike klimaatspatrone. Prof Sydney het beklemtoon: “Ons het al hierdie graansoorte op ons voorstoep. Daar is geen verskoning om nie die honger op ons vasteland hok te slaan nie.”

Die NWU-gemeenskap bly daartoe verbind om deur hierdie inisiatiewe intellektuele eiendom vir volhoubare ontwikkeling aan te wend en ’n blinker toekoms vir almal te skep.

Dr Petro Erasmus, Eagi, Mafika and Dr Janine Chantson

Dr Petro Erasmus, Eagi, dr Janine Chantson, TTIS se hoofdirekteur, en Mafika

...

Prof Sydney Mavengahama, Eagi, dr Janine Chantson, TTIS se hoofdirekteur, en Mafika

Submitted on Thu, 05/09/2024 - 08:56