In maer jare kan voedsel met minder hulpbronne geproduseer word

Landbou is aan die voorpunt om voedselsekerheid te waarborg en navorsers aan die Noordwes-Universiteit (NWU) soek deurlopend na meer innoverende en doeltreffender maniere om hierdie lewensbelangrike sektor te bevorder.

Medeprofessor Rojanette Coetzee van die Skool vir Bedryfsingenieurswese fokus op “lenige landbou” om vermorsing te verminder en die doeltreffendheid van agristelsels te verbeter.

“Die benadering van lenige landbou is uit die vervaardigingsbedryf aangepas, waar dit gebruik word om vermorsing te verminder, doeltreffendheid te verbeter en meer met minder te doen,” sê prof Coetzee.

Sy sê hierdie strategie het veral in die landbousektor belangrik geword, waar natuurlike hulpbronne soos water en grond beperk is, en dit lewensbelangrik is om opbrengs te maksimaliseer terwyl koste beperk word.

Werk met lewende organismes, nie produksielyne nie

Om lenige konsepte op landbou toe te pas, bring unieke uitdagings, aangesien die proses lewende organismes – plante en diere – eerder as produksielyne met onvoltooide produkte behels.

Faktore soos weerstoestande, die gesondheid van diere en verskillende soorte grond is dinamies en moet oorweeg word wanneer vermorsing en ondoeltreffendheid geïdentifiseer word. 

Verminder vermorsing vir optimale doeltreffendheid

“Daar is bewyse dat lenige vervaardiging doeltreffend is om in bedrywe soos vervaardiging, gesondheidsorg en die dienssektor vermorsing te verminder en werkvloei te verbeter. Die toepassing in landbou is egter steeds besig om te ontwikkel en lenig word gebruik om vermorsing regoor verskeie bedrywighede te ontleed en te verminder – van plase tot by voorsieningskettings en verwerkingsgeriewe,” sê prof Coetzee.

Sy verduidelik: “Navorsers begin gewoonlik om bestaande prosesse te ontleed om gebiede van ondoeltreffendheid te identifiseer. Dit behels die insameling van data, kartering van prosesse en ontleding van die kernoorsake om knelpunte in die stelsel te ontdek.”

Nadat die verkwistende aktiwiteite geïdentifiseer is, stel navorsers oplossings voor om die proses meer vaartbelyn te maak.

“Die doel is nie om die stappe te verbeter wat reeds goed werk nie, maar om die ondoeltreffendhede uit te skakel wat die stelsel stadig maak. Een voorbeeld hiervan is in die graanhanteringsbedryf.”

Graansilo’s speel ’n belangrike rol in die landbousektor, aangesien hulle groot hoeveelhede graan stoor en as kernpunte vir die graanvoorsieningsketting optree. Tydens piekseisoene is daar egter verskeie uitdagings in die proses waar graan ontvang word as gevolg van beperkings in die bestaande infrastruktuur en die metodes wat gebruik word. 

Verminder opeenhoping en ondoeltreffendheid

Die rye trokke wat buite die siloterrein vorm, veroorsaak ’n opeenhoping en vererger die ondoeltreffendheid wat daar alreeds in die stelsel teenwoordig is. Hierdie bottelnekke wat by die silo’s voorkom, beïnvloed die doeltreffendheid en die spoed van die bedrywighede. Die stadige pas lei tot langer wagtye vir produsente en die kontrakteurs in die rye, wat hulle graan vinnig wil aflaai en na ander oes-aktiwiteite wil terugkeer.

Verhoogde produktiwiteit ’n wenformule vir voedselproduksie

’n Groep studente wat vir meestersgrade in bedryfsingenieurswese by die NWU ingeskryf is, is besig om te ondersoek hoe die agt vorms van lenige afval geïdentifiseer kan word en in konteks geplaas word vir die hantering van graan by silo’s. 

Hierdie agt gebiede is oorproduksie, wagtye (vir onderdele, instruksies, materiaal, of trokke buite die silo’s wat wag om gediens te word), vervoer, oorverwerking, oortollige voorraad, beweging, gebreke en onderbenutting van die kreatiwiteit van werknemers. 

Die navorsingspan is besig met ’n ontleding by ’n gevallestudie-organisasie van die basiese redes vir die stadige pas waarteen dinge by die silogeriewe plaasvind. Wanneer dit gevind is, sal die kernoorsake regoor die agt vorms van lenige afval gekategoriseer word en in lenigelandbouvermorsing gekontekstualiseer word. 

“Deur vermorsing te verminder en prosesse meer vaartbelyn te maak, kan produsente en agribesighede meer voedsel met minder hulpbronne produseer, en in ooreenstemming met die wêreldwye behoefte aan volhoubare boerderypraktyke optree,” verduidelik prof Coetzee.

Sy beskryf dat in die geval van die graansilo’s, die verbetering van die omdraaitye vir die trokke nie net vir die maatskappye tot voordeel is nie, maar produsente ook in staat stel om hulle voertuie doeltreffender te gebruik en so die hele voorsieningsketting verbeter.

“Namate lenige metodes voortgaan om binne landbou te ontwikkel, bied hulle belowende oplossings vir die toenemende uitdagings ten opsigte van die skaarste aan hulpbronne en voedselsekerheid. Deur voortgaande navorsing en praktiese toepassings help lenige beginsels om landbou te transformeer om ’n meer produktiewe en volhoubare bedryf te word.”

Rojanette Coetzee

Prof Rojanette Coetzee van die Skool vir Bedryfsingenieurswese in die Fakulteit Ingenieurswese.

students

Stacey Lea, Melissa Roux en Leonize Meiring is drie entoesiastiese meestergraadstudente wat hulle navorsingsfokus op lenige landbou het.

Submitted on Wed, 10/09/2024 - 08:20