Ligte, kamera, aksie! Tweede One Button Studio sien die lig

Om ’n video op te neem, was nog nooit so maklik nie. ’n Tweede One Button Studio (OBS) is onlangs op ons kampus in Vanderbijlpark geopen om die gebruikersvriendelike dog baie moderne oudiovisuele toerusting binne bereik van elke student en personeellid te bring.

Die One Button Studio is ’n vereenvoudigde, selfdiens- en geoutomatiseerde video-opname-stelsel wat enigeen kan benut sonder om vooraf enige videoproduksie-ervaring te hê. Die ontwerp van die ateljee help ’n persoon om afgeronde videoprojekte van hoë gehalte te skep sonder dat hulle iets oor films, ligte of kameras hoef te weet. Al wat van die gebruiker verwag word, is ’n geheuestafie en die druk van ’n enkele knoppie (soos die naam sê: one button).

Word al hoe gewilder

“Toe ons die eerste ateljee in Maart 2016 geopen het, was ons aanvanklike bekommernis om genoeg gebruikers te lok om te verseker dat dit optimaal benut sal word,” sê dr Marieta Janse van Vuuren, beskermvrou van die projek. Daardie bekommernis was heeltemal ongegrond, aangesien die ateljee uiters gewild geword het.

Aan die begin van Julie 2017 is die OBS in die evaluering van 95 verskillende modules op die kampus in Vanderbijlpark gebruik. Teen die tyd dat hierdie artikel geskryf is, is ’n totaal van 2 820 video's net in 2017 opgeneem.

Trouens, selfs die tweede ateljee is reeds so vol bespreek dat studente sessies met mekaar moet deel.

Daar is geen twyfel nie: die kampus het die One Button Studio heeltemal hulle eie gemaak.

 

Hoe en waar om video’s te gebruik

Jy kan die visuele inhoud wat in ’n One Button Studio (OBS) geskep is, op verskeie maniere gebruik:

  • Oefening vir aanbiedings: Oefening om in die klas op te tree, voorbereiding vir konferensies, of om vir die verdediging van ’n verhandeling voor te berei deur ’n voorafoefening in die OBS te doen.
  • Bekendstelling van modules: Dosente kan die bekendstelling van ’n module vinnig en maklik in die OBS opneem en dit op hulle moduleblad in die leerbestuurstelsel, eFundi, plaas.
  • Konsepvideo’s: Dosente kan moeilike begrippe vir hulle module, of materiaal vir ’n aanlyn of omgekeerde kursus bekendstel of verduidelik.
  • Opdragte: Studente kan die OBS gebruik om individuele of kleingroep-opdragte vir hulle modules op te neem. Hierdie video’s kan vir assessering op hulle eFundi-werwe gelaai word.
  • Groenskerm: Studente of dosente gebruik ’n groenskerm of PowerPoint-skyfies wanneer hulle opnames maak. Die Sentrum vir Onderrig en Leer bied gratis groenskermredigering aan vir akademici wat inhoud vir hulle modules opneem.
  • Opstelling vir onderhoude: Die OBS kan gebruik word as ’n plek om met besoekende akademici onderhoude te voer, of om kundige opinies en praatjies in die styl van ’n “TED”-praatjie (sien www.ted.com) te verkry.
 

Kry die groter prentjie

Daar is meer as 100 OBS-eenhede regoor die wêreld, maar die twee ateljees op die kampus in Vanderbijlpark is steeds die enigstes op die Afrika-kontinent.

Die ateljee is geskoei op die One Button Studio by die Penn State-biblioteke, wat derdepartyhardeware integreer om ’n geoutomatiseerde en vaartbelynde video-opname-ateljee te skep. 

 


Videograaf Maryke Laas voer ’n onderhoud met dr Marieta Janse van Vuuren in die studio wat Marieta en haar span gehelp het om tot stand te bring.

 

Submitted on Fri, 09/01/2017 - 11:23