Liezl is terug en sterker as ooit

Sy is terug. Maar tog anders. Sy is nie meer dieselfde Liezl Gouws nie. Japan het haar verander. Dit het sowat 100 km weg van die skadu van Berg Fuji en sy sneeubedekte kroon gebeur. Elke druppel sweet wat van haar afgetap het is verruil vir wysheid en ervaring.

Liezl (23) het onlangs by die Paralimpiese Spele in Tokio, Japan vyfde in die T37-finaal van die 400 m geëindig. Dit was hierdie boorling van Klerksdorp en student van die Noordwes-Universiteit se tweede Paralimpiese Spele.  

“Dit was rêrig ’n groot ervaring, en ek moes myself heeltyd herinner om oomblikke vas te vang, soos om net in die stadion te sit en vir die ander atlete te kyk. Ek moes myself ook herinner dat, maak nie saak hoe ek presteer nie, ek myself hier gekry het. Om net in die Olimpiese dorpie te wees, was ʼn belewenis wat ’n mens nie werklik kan beskryf nie. Om in die blokke langs die wêreld se beste atlete te sak … om te besef daar is nie ʼn hoër vlak as hierdie nie, dit is net iets om voor dankbaar te wees,” vertel sy.

En dan is daar die lesse wat geleer is.

“Dit was ʼn groot uitdaging om vir die twee weke wat ons daar was geestelik sterk te bly. Daar is maar baie druk en, ja, om te weet jy het so lank geoefen vir iets en jy het net hierdie een geleentheid om jou beste te gee – daar was maar tye dat ek begin stres het.”

Dit is in hierdie tye dat haar eie deursettingsvermoë asook ʼn vangnet of twee haar lewenslyn was. “Ek is baie dankbaar vir die span wat my ondersteun het – vir my afrigter, Sean Bownes, en sy leiding, en vir Anuschka van der Merwe. Sy was die afgelope tyd soos my geestelike afrigter. Vir al die boodskappe van vriende en familie. Die inwoners van Klerksdorp en Potchefstroom wat my net bemoedig het.”    

Liezl se kamermaat, Louzanne Coetzee, het haarself dubbel en dwars bewys deur ʼn silwer- en ’n bronsmedalje in te palm. Dit, tesame met die aanmoediging van haar medelede van Span Suid-Afrika was vir haar inspirerend, verduidelik Liezl, wat self ander inspireer.

Hartseer was daar ook. Sy is ná afloop van die 200 m gediskwalifiseer omdat sy om die draai uitgetrap het. Tog was dit steeds haar beste 200 m-tyd. “Dit was ʼn reis van ses jaar se gesukkel om by daardie tyd uit te kom. Ek is baie trots daarop.” Haar 400 m-tyd was haar naasbeste ooit. “ʼn Vyfde plek in ʼn finaal teen die wêreld se bestes is meer as waarvoor ek kon vra.” En, voeg sy by, dit was ook lekker om haar land te kon verteenwoordig. “Om my universiteit te kon verteenwoordig.”

Sy lag wanneer sy terugdink. Soveel om te onthou. Die lag bring dit terug.

“Die mense van Japan is die vriendelikste nasie wat ek in my lewe ontmoet het. Van die vrywilligers wat gehelp het tot die mense wat met plakkate op sypaadjies gestaan het om ons aan te moedig. Dit maak ’n mens se hart baie warm. Die organisering van die byeenkoms kon nie beter gewees het nie.” 

Haar voorbereiding vir die 2022 Wêreldkampioenskap is ook reeds onderweg. “Op hierdie oomblik kyk ek net vorentoe. Dit voel of ek nuwe motivering gekry het om net nog harder te werk. Ek is beslis nie klaar nie. Ek sal definitief, as dit die Here se wil is, aan nog ʼn Spele of twee wil deelneem. Ek is nog jonk en ek is nou eers op die ouderdom waar ’n mens kompeterend begin deelneem.”   

Sy weet dit, want sy is nou anders. Japan het haar verander. Sy is wyser en sterker as ooit.

........

Liezl in aksie in Japan

Submitted on Wed, 09/29/2021 - 10:13