Liezl Gouws is gereed om haar Paralimpiese stempel af te druk

Sy het haar vasberadenheid reeds oor en oor bewys – meer as wat iemand van haar ouderdom dit behoort te doen, en Liezl Gouws is gereed om dit weer te doen. Hierdie vierdejaar-farmasiestudent van die Noordwes-Universiteit (NWU), wat as vyfjarige ’n serebrale verlamming opgedoen het nadat sy ’n beroerte gekry het, gaan Suid-Afrika by die 2021 Paralimpiese Spele in Tokio, Japan verteenwoordig.

Liezl gaan aan die 200 m- en 400 m-wedloop in die T37-kategorie deelneem. Sy hou die wêreldrekord vir die 800 m, maar die 800 m-wedloop vind nie hierdie jaar in die Land van die Opkomende Son plaas nie.  

“Dit voel onwerklik, en het nog nie regtig ingesink nie,” sê sy vanaf die OR Tambo Lughawe in Johannesburg. Dit is Donderdagmiddag 19 Augustus. Haar vliegtuig vertrek binnekort na Ethiopië, waar hulle gaan oorlê voordat hulle op die 16 uur lange vlug na Tokio vertrek. Sy sal Saterdagoggend om 01:00 Suid-Afrikaanse tyd in Tokio aankom.  

“Dit was ’n lang pad om tot hier te kom. Ek voel dat ek beter voorberei is as wat ek nog ooit was. Ek is die fiksste wat ek nog ooit was en ek hoop om in ten minste die topvyf in die 400 m te eindig.”

Die uitdunne en die finaal van die 200 m-wedloop gaan op 27 Augustus plaasvind, terwyl die uitdunne en die finaal van die 400 m op 31 Augustus gehou gaan word. Baie is al gesê oor die hoë temperature en humiditeit in Japan, maar daardie kookpunt-vooruitsig pla haar nie in die minste nie.
“Ek is mal oor die somer, dus sien ek eintlik uit na die hitte. Ek sal net seker maak dat ek genoeg water het en gehidreer bly,” verduidelik sy met ’n laggie. Dieselfde geld vir die Covid-19-beperkings: “Nee, dit pla my nie regtig nie. Dit is nie ideaal nie, maar ons is bewus van wat op ons wag, dus behoort dit geen probleem te wees nie. Dit gaan egter nie soos Rio van 2016 wees nie!” grinnik sy met verwysing na haar vorige Spele.

Sy is ook baie bewus van die hoeveelheid ondersteuning wat sy myle ver van die huis af sal kry: “Die ondersteuning van die universiteit was ongelooflik en ek is so dankbaar vir al die ondersteuning en liefde van my familie en vriende in Potchefstroom. Ek het ’n groot span ondersteuners wat agter my staan.”

Liezl Gouws

Liezl Gouws.

Submitted on Mon, 08/23/2021 - 11:56