Dit was onvermydelik dat ’n verdere styging in leenkoste vir besighede en verbruikers geïmplementeer moes word.
Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Besigheidskool van die Noordwes-Universiteit (NWU), wys daarop dat die Monetêre Beleidskomitee (MBK) op 21 Julie met ’n verdeelde stem besluit het om die rentekoers met nog 75 basispunte te verhoog.
“Dit is teen ’n agtergrond van nog hoër inflasie en ’n verwagting dat dit in Suid-Afrika nog verder gaan styg. Met die MBK se toenemende bekommernis oor die voorkoms van die tweederondte-effek van inflasie, was dit onvermydelik dat ’n verdere verhoging in leenkoste vir besighede en verbruikers nou geïmplementeer moes word.”
Hy sê dit kom nietemin op ’n tyd wanneer sake- en verbruikersvertrouevlakke reeds laag is.
“Of ’n verhoging van soveel as 75 basispunte in leenkoste nou nodig was, is debatteerbaar. Dit is die vyfde verhoging sedert die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) sy verhogingsiklus van rentekoerse in November 2021 begin het en dit is waarskynlik dat leenkoste oor die volgende paar maande gaan aanhou styg.”
Hy sê dat, in die lig van die huidige wêreldwye en plaaslike ekonomiese dwarswinde, ’n meer aggressiewe monetêre beleid terselfdertyd die risiko verhoog dat dit nou groei en indiensneming in die wiele gaan ry.
“Die MBK moet inderdaad dus in hoogs onseker ekonomiese omstandighede datagedrewe en aanpasbaar bly.”
Sou ’n mens na die toekoms kyk, sê prof Parsons, is daar ook eksterne en interne redes om te verwag dat die inflasiekoers binnekort sy hoogtepunt gaan bereik en dan na die einde van 2022 sal begin afplat.
Aangesien monetêre beleid ongeveer ’n twaalf maande lange tydsagterstand het, sal die kumulatiewe impak van die huidige rentekoersstygings voorts met die SARB se huidige laer groeivoorspelling van slegs 1,3% vir die bruto binnelandse produk (BBP) vir 2023 saamval.”
Hy verduidelik dat daar dus maalkolke aan beide kante is – nie net aan die een kant nie – terwyl die MBK die monetêre beleid in die tyd wat voorlê, moet stuur.