Lae vlak van leenkoste bevorder steeds ekonomiese stabiliteit

Die besluit verlede week deur die Monetêre Beleidskomitee (MBK) om die repokoers vir die vierde agtereenvolgende keer onveranderd te laat, was te wagte, en in ooreenstemming met markverwagtings.

Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Besigheidskool van die Noordwes-Universiteit (NWU), sê die MBK meen dat inflasie hoofsaaklik rondom die middelpunt van 4,5% van die inflasieteikenstrek van 3%–6% gaan bly, en dat die inflasieverwagting grootliks geanker sal wees.

“Die MBK het dus tereg geoordeel dat dit nodig is om voort te gaan om vir eers ekonomiese stabiliteit deur ’n lae vlak van leenkoste te bevorder. Veral verbandlenings het in die afgelope paar maande toegeneem as gevolg van rentekoerse wat byna die laagste is wat dit in die afgelope 50 jaar was, en die vraag na huislenings styg steeds.”

Prof Parsons sê hoewel lae rentekoerse die ekonomie gewoonlik ondersteun, dit nietemin lyk of ’n swak vraag na krediet deur besighede vir ’n geruime tyd reeds voortduur.  “Dit wil dus lyk of daar ’n verlaagde aptyt van beleggers is, en ’n gebrek aan ’n begeerte om betrokke te raak by meer beleggings, wat groei in die jare wat voorlê kan verseker.”

Hy sê dat die toename in vastekapitaalvorming die basis vir volgehoue arbeidsryke groei is. “Die MBK nietemin ook met die hersiening van sy BBP-voorspelling vir 2021 as geheel tot ’n welkome hoogtepunt van 5,3% gesê dat die grootste gedeelte van die herstel in die ekonomie nou agter ons lê. Die ekonomiese groeivooruitsig vir 2022 en 2023 is ook tot onder 2% verlaag, wat skaars hoër as die bevolkingsgroei is. Werkloosheid sal steeds hoog bly. Die MBK meen gelukkig dat privaat vaste beleggings begin herstel, maar het beklemtoon dat dit steeds deur verskeie faktore aan bande gelê word.”

Volgens prof Parsons moet die herstel van die ekonomie dus tot volgehoue groei lei. Hy sê dat die gewone beperkings op hoër inklusiewe groei – soos die gebrek aan energiesekerheid, beleidsonsekerheid, swak vertroue en stadige vordering met strukturele hervormings – steeds dringende aandag nodig het sodat beleggersvertroue aangemoedig kan word.

“Dit is die sleutelkwessies om Suid-Afrika se toekomstige ekonomiese prestasie te verbeter, maar dit lê buite die mandaat van die Suid-Afrikaanse Reserwebank.”

Submitted on Mon, 09/27/2021 - 13:13