Lae stempersentasie: Opvoeding is die antwoord – Noordwes-Universiteit

Die straf en die oortreding pas nie by mekaar nie. Suid-Afrika het ’n endemiese, groeiende en unieke siekte wat nie net die gesondheid van ons land se demokratiese strukture raak nie, maar dit is ook ’n baie swak vorm van straf vir die gebrek aan dienslewering. Die stempersentasie raak al hoe laer, maar om weg te bly, is nie ’n oplossing vir griewe nie. Dit is ’n saak wat die Noordwes-Universiteit (NWU) hoop om deur middel van sy unieke mengsel van onderrig-leer-inisiatiewe te hanteer.

In die afgelope aantal verkiesingsiklusse – nasionaal sowel as plaaslik – het die stempersentasie gedaal. Uit die oogpunt van kiesersdeelname is die prentjie maar vaag. Moet meer kiesers nie gaan stem om hulle ontevredenheid te kenne te gee as hulle voel dat leë beloftes steeds gemaak word nie?

Volgens Naledi Modise, ’n kundige by die NWU oor kiesersgedrag, verkiesings, kiesstelsels en politieke deelname, is dit ’n onbegryplike verskynsel. Volgens haar een wat aan demokratiese dividende toegeskryf kan word. Of liewer, aan die gebrek daaraan.

“Ons het gesien dat daar met elke verkiesing sedert ongeveer 2009 al hoe minder kiesers opdaag. Dit is eerstens ’n reaksie op die sosio-ekonomiese omstandighede van die meerderheid van die kiesers. Dit is die gevolg van ’n gebrek aan demokratiese dividende. Die meeste mense voel dat hulle nie regtig die voordele van die demokrasie ontvang wat aan hulle belowe is nie. Hulle sosio-ekonomiese status en omstandighede het nie werklik verbeter nie. Tweedens is daar minder geloof of selfs ’n wantroue in die demokratiese instellings wat tydens die oorgang na demokrasie in werking gestel is.”

Suid-Afrika se grootste kiesersblok is wegblystemme, en aanspreeklikheid vir die dilemma asook oplossings is nodig.

“Die gebrek aan lewering ten opsigte van die verbetering van die maatskaplike omstandighede van die mense wat vir hulle stem, is die verantwoordelikheid van diegene in die regering en van die regerende party, wat die ANC is. Wat ’n mens ook met die daling in die stempersentasie sien, is ’n protes teen die ANC met betrekking tot dienste wat die kiesers nie ontvang het nie. Dus, in plaas van om te stem, verkies hulle om dit nie te doen nie.”

Dit is egter nie waar dit ophou nie.

“Die opposisiepartye moet verstaan dat hulle ook daarvoor verantwoordelik is, aangesien hulle nie daarin kon slaag om die kieserskorps tot so ’n mate te stimuleer of betrokke te kry dat die kiesers hulle as lewensvatbare alternatief beskou nie. Die politieke partye binne die land het verskillende verantwoordelikhede en tot ’n groot mate het hulle almal misluk om daardie verantwoordelikhede na te kom.”

’n Oplossing lê in die opvoeding van kiesers, aangesien dit die kieserspubliek op ’n ingeligte wyse aanmoedig om hulle burgerlike verantwoordelikheid na te kom. Die NWU glo dat dit nodig is om die formele sowel as die informele roete te volg om dit reg te kry.

Die universiteit se Skool vir Owerheidstudies in die Fakulteit Geesteswetenskappe gee aan studente ’n begrip van die teorie en praktyk van regering, die aard van politiek, beleidsvorming en openbare administrasie, asook van buitelandse beleid en staatsekuriteit. Studente wat vir hierdie graad

studeer, is diegene wat ’n positiewe impak op ’n snelveranderende samelewing wil maak, en hulle is gretig om die kennis, vaardighede en ingesteldhede te ontwikkel wat hulle kan help om daardie bydrae te lewer.

“Om kiesersgedrag te verander, gaan ’n allemintige taak wees. Ons het mense nodig om te registreer om te stem en hulle moet verstaan wat hulle burgerlike plig is. Een van die maniere om dit te doen, is om maatskaplike programme te skep wat mense leer waarom dit belangrik is om te stem, in plaas daarvan dat hulle besluit om glad nie te stem wanneer hulle ongelukkig is met die politieke party wat hulle in die amp verkies het nie. Ek dink dit is wat die vermiste skakel is. Ons moet ook meer samewerkende ruimtes skep vir instellings soos die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) om inisiatiewe soos kiesersregistrasie te deel. Hoe meer geleenthede ons vir die publiek skep om met onpartydige instellings soos die OVK te kommunikeer, hoe beter,” sê Modise.

Watter straf pas dus by die oortreding?

Die straf moet wees om ingelig te bly. Die straf is deelname.

.....

Naledi Modise

Submitted on Thu, 03/16/2023 - 16:15