Die besluit deur die Monetêre Beleidskomitee (MBK) om rentekoerse weer onveranderd te laat, was in ooreenstemming met markverwagtings en soortgelyk aan die benadering by die vorige vergadering in Mei 2021.
Prof Raymond Parsons, ekonoom by die Besigheidskool van die Noordwes-Universiteit (NWU), sê die bykomende onsekerhede wat onlangs deur die burgerlike oproer, die vlak 4-inperking en die huidige verloop van die pandemie ’n invloed op die ekonomie uitgeoefen het, het die behoefte om leenkoste nou laag en stabiel te hou, beklemtoon. Dit bly belangrik vir sake- en beleggersvertroue op hierdie stadium in Suid-Afrika se sakesiklus.
Prof Parsons sê dat die negatiewe risiko’s vir groei wat deur die MBK gelys is, in die lig van huidige ontwikkelings nou baie belangrik is. “Met kerninflasie wat vir eers bekamp is, is die prioriteit dus dat die monetêre beleid ondersteunend moet wees terwyl Suid-Afrika die beduidende ekonomiese koste van die jongste “skokke” vir die ekonomie moet absorbeer en daarby aanpas. Dit is dus wenslik dat die rentekoersbeleid steeds op ’n ongewone stel omstandighede moet reageer.”
Hy sê dat die MBK nie sy vorige BBP-groeivoorspelling van Mei 2021 van 4,2% in 2021 verander het nie, wat daarop dui dat hulle nie meen dat die jongste gebeure ’n blywende impak op Suid-Afrika se groeivooruitsig vir hierdie jaar sal hê nie. Ander voorlopige beramings van die BBP-verlies hierdie jaar het inderdaad baie gevarieer: van -0,4% tot -0,8%, maar ons wag nog steeds op die presiese syfers. Tog, wat ook al die uiteindelike uitkoms, dit is reg dat daar nou geen sprake sal wees om die rentekoerse in ’n kwesbare ekonomie te verhoog of te “normaliseer” nie.
“Dit is bemoedigend dat die MBK hoop om die leenkoste laag te hou vir so lank as wat die omstandighede dit toelaat. Meer breedweg gesien, die jongste MBK-verklaring bevestig dat beleggersvertroue inderdaad deur die jongste gebeure geruk is. Dit is egter reeds duidelik dat die impak op langtermynbeleggersentiment nie afhang van die feit dat wydverspreide burgerlike oproer voorgekom het nie, maar van die graad van vertroue wat getoon word in die manier waarop die situasie van nou af bestuur gaan word.”
Prof Parsons verduidelik dat hoe beter en verstandiger Suid-Afrika se hantering van die nadraai van die onlangse geweld en plundery beskou word – polities sowel as ekonomies – hoe gouer sal beleggersvertroue herstel.
“Wat beleggers nou nodig het, is die versekering dat hulle nie weer aan hierdie risiko’s blootgestel sal word nie, aangesien die regte remedies en hervormings wat beleggings in Suid-Afrika aantreklik maak, nou geïmplementeer sal word. Hierdie uitdaging lê nie by die Suid-Afrikaanse Reserwebank of monetêre beleid nie, maar elders,” sluit hy af.