Die voortgaande effek wat Covid-19 op geestesgesondheid het, word regoor die wêreld gevoel, maar veral in Suid-Afrika noudat die pandemie ons land met ’n derde vlaag getref het. Ons het geliefdes, ons finansiële stabiliteit, van ons vryhede, ons sosiale interaksie, en ’n “normale lewe” waaraan ons gewoond is, verloor. Ons het ook baie in hierdie tyd geleer, maar baie van die onsekerhede is steeds met ons, en dit het ’n beduidende impak op ons geestesgesondheid.
Toe die uitbreking begin het, het die meeste van ons gedink of gehoop dat dit tydelik sal wees, maar namate die weke maande geword het, het ’n gevoel van hopeloosheid oor die heersende omstandighede posgevat, asook oor die nuwe uitdagings wat deurlopend opduik. Dit is gedurende hierdie tye dat ons onsself met hoop moet vul. Die Amerikaanse sielkundige Charles Snyder beskryf hoop as die waargenome vermoë en motivering om sekere paaie te volg wat uiteindelik tot ’n verlangde uitkoms lei. Hoop word gesien as die brandstof wat mense deur aksie aan die gang hou. Snyder se hoop-teorie sê dat hoop uit kognitiewe (proses en inhoud van denke) en affektiewe (emosies) komponente bestaan wat uiteindelik tot aksie lei. Jy moet dus gefokusde denke hê, doelwitte stel asook strategieë om dit te bereik, en gemotiveer wees om hierdie doelwitte na te jaag.
Sumari Nel is ’n geregistreerde berader wat nou saam met die Sentrum vir Gesondheid en Menslike Prestasie (CHHP) van die Noordwes-Universiteit werk. Sy sê dat hoop beïnvloed word deur hoe jy huidige omstandighede waarneem, en dit is waarskynlik dat dit jou emosies en gedrag sal beïnvloed, en tot sielkundige gevolge lei. “As ons ons huidige omstandighede as hopeloos waarneem, sal ons dalk nie van die impak van ons negatiewe outomatiese gedagtes oor ons ervaring van negatiewe emosies, en ’n verandering in ons funksionele gedrag, bewus wees nie,” sê Sumari. Sy wys ook daarop dat dit belangrik is om bewus van en waaksaam te wees oor ons gedagtes, veral tydens hierdie pandemie, en om die rasionaal van ons denke te evalueer. Hierdie toenemende bewustheid maak plek vir ’n groter waarskynlikheid om die ervaring van positiewe emosies te verhoog en om meer funksioneel op te tree, wat uiteindelik jou geestesgesondheid verbeter en jou in staat stel om elke dag met hoop te leef.
“Ons sien oral om ons dat individue ekstra moeite doen om vir hulle fisieke gesondheid te sorg, maar dit is belangrik dat ons ook ’n ekstra poging moet aanwend om ons geestesgesondheid te koester en te beskerm. Daar is baie onsekerheid en omstandighede wat tot ’n groot mate buite ons beheer is, maar ons moet hierdie reis met hoop aanpak fokus op die beheer wat ons nog steeds het, en die kanse en geleenthede koester wat ons nog steeds het,” sluit Sumari af.
Hier is ’n paar praktiese idees om te implementeer, soos Sumari Nel, ’n geregistreerde berader by die CHHP, dit met ons deel:
- Vier die “klein” oorwinninkies van elke dag met ’n dankbare hart. Skryf aan die einde van die dag ten minste een ding neer waarvoor jy dankbaar kan wees.
- Stel realistiese, duidelike en bereikbare doelwitte terwyl jy die potensiële hindernisse of struikelblokke langs die pad herken.
- Bring tyd deur by mense – selfs al is dit virtueel – wat jou laat goed voel en jou laat glimlag.
- Fokus jou aandag op die feite van betroubare hulpbronne om op hoogte te bly van die nuus, maar beperk blootstelling aan onbetroubare mediahulpbronne. As jy gereeld verskillende webwerwe vir nuus en nuwe kommentaar kontroleer, kan dit ’n negatiewe uitwerking op jou geestesgesondheid hê, aangesien dit jou gevoelens van hopeloosheid en vrees kan vergroot. Ruim tyd in om ook oor positiewe uitkomste te lees.
- Maak tyd om iets te doen waarvan jy hou, of probeer nuwe stokperdjies waarmee jy altyd wou begin.
- Skraap die moed bymekaar om vir hulp te vra – van familie, vriende of professionele persone. Jy hoef nie hierdie reis alleen aan te pak nie.
Sumari Nel