Kortleerprogram in tale beklemtoon meertaligheid

Taal oorbrug grense. Die verbind ons, inspireer ons, voed ons op en verryk ons. Dit is dié fundamentele instrument wat ons in staat stel om mekaar te leer ken. En in ’n uiteenlopende, meertalige samelewing sal daar minder grense tussen ons wees hoe meer ons mekaar se moedertale leer waardeer.

Dit is waarom die Skool vir Taalonderwys in die Fakulteit Opvoedkunde, in samewerking met die Taaldirektoraat, ’n kortleerprogram oor meertalige pedagogieë ontwerp het, wat die personeel van elke fakulteit wil help om ’n mate van meertaligheid in hulle lesings te implementeer.  

“Ek dink dit is belangrik vir akademici om die kursus by te woon, aangesien hulle iets sal leer oor die teoretiese basis van meertalige pedagogieë, die moontlikhede vir die gebruik van meertaligheid as transformasie-instrument in hoër onderwys, hoe om nuttige onderrigstrategieë in meertalige klaskamers aan te wend, en hoe om praktiese lesings vir eerstejaarmodules te beplan sodat funksionele meertaligheid in hoëronderwyskontekste bevorder kan word,” sê dr Keaobaka Seshoka, direkteur van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Taaldirektoraat.

“Deelnemers kan interaktiewe sessies en praktiese lesse verwag oor die bevordering van meertaligheid in hoër onderwys en hoe hulle meertaligheid as ’n waardevolle hulpbron kan benut om leer te bevorder.”

Volgens Anele Gobodwana, ’n dosent by Taalonderwys en medewerker van die Taaldirektoraat, is die kortleerkursus in meertalige pedagogieë ontwerp om dosente oor ander tale by die universiteit in te lig. Ingevolge sy taalbeleid erken die NWU vier tale, naamlik Engels, Afrikaans, Tswana en Sotho. Die vernaamste uitdaging is om in meertalige klaskamers onderrig te gee. Daar word gehoop dat hierdie kursus, wanneer dit suksesvol geloods is, beslis mense in staat sal stel om meer tale te leer ken. Suid-Afrika is ’n diverse land en ons moet ten minste die tale ken van die provinsie waar ons woon.

Die kursus begin op 25 Julie. Vir meer inligting, kontak Anele Gobodwana by 071 717 1863 or 33577099@nwu.ac.za.

 

 

 

 

Submitted on Thu, 06/09/2022 - 06:58