“Soos te wagte het die Monetêrebeleidskomitee (MBK) van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) voortgegaan met sy siklus van rentekoersverhogings, met ’n styging van 25 basispunte (bsp) in plaas van die hoër opsie van 50 bsp wat ook wyd bepleit is.”
Volgens prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, is dit in die huidige spanningsvolle ekonomiese omstandighede die regte besluit.
Hy sê om die verskillende risiko’s te bestuur wat die ekonomie nou ervaar, is daar ruimte vir legitieme verskille in interpretasie ten opsigte van die tempo waarteen leenkoste weer eens moet styg.
Die MBK was self met ’n 3–2-stem oor die omvang van die styging verdeel. “Die MBK het verder sy groeivoorspelling van die bruto binnelandse produk (BBP) vir 2023 tot so laag as 0,3% verlaag. Dit word hoofsaaklik aan die negatiewe impak van beurtkrag toegeskryf.”
Prof Parsons sê ernstige teenwinde vir die ekonomie hierdie jaar sluit nie net verskerpte beurtkrag in nie, maar ook hoër insetkoste, swak vertrouensvlakke, verhoogde onsekerheid, winsmarges wat onder druk is en potensiële afleggings.
“Die wêreldekonomie is ook minder ondersteunend ten opsigte van binnelandse ekonomiese groei. Hoewel die inflasiekoers begin afplat, bly die MBK bekommerd oor inflasionêre verwagtings. Laer groeiverwagtings in 2023 kan nietemin help om die druk op koste en pryse te verlig.”
Prof Parsons sê in die lig van die normale vertraging van 12 tot 18 maande in die impak van die monetêre beleid op die ekonomie, neem die kumulatiewe effek van vorige leenkoste toe, en val gevolglik ook met ’n baie laer groeiprestasie in 2023 saam.
“Die gevaar van oordrewe optrede in die monetêre beleid bestaan wel indien die verhoging in rentekoerse te aggressief is, selfs wanneer rentekoerse naby aan hulle hoogtepunt is. Die monetêre beleid kan dan moontlik deur die vertragings gepootjie word. Die MBK het dus die regte besluit geneem om sy tempo vir die verhoging van rentekoerse vir eers te beperk.”