Kom ons oorweeg dit om meer begrip vir vertroue te hê

Het ons begrip vir vertroue? Dit is die vraag wat dr Marita Heyns, ’n navorser by die Noordwes-Universiteit (NWU) se Optentia-navorsingsfokusarea, vra.

Deur haar navorsing streef dr Heyns – wat ’n besondere belangstelling het in die ontwikkeling van modelle vir interpersoonlike en organisasievertroue in die konteks van die werkplek wat deur oorgang en onsekerheid gekenmerk word – daarna om maniere te bevorder vir individue en organisasies om te floreer.

In die volgende meningstuk deel sy haar gedagtes oor die wêreldwye krisis ten opsigte van vertroue.

Jaarlikse opname skets ’n ontstellende prentjie

Volgens die Edelman-vertrouebarometer, ’n wêreldwye opname oor vertroue en geloofwaardigheid, toon die wêreldwye vertroue-indeks dramatiese afnames in al die fasette wat nagespoor word in feitlik al 28 die lande wat aan die opname deelneem. Die vertroue-indeks gee ’n aanduiding van die vlak van vertroue wat respondente uit deelnemende lande in die regering, nieregeringsorganisasies, besighede en die media het.

Die resultate stem ooreen met wat ander kundiges die “die posttrust-era” noem, en die daaropvolgende vervaging van die onderskeid tussen eerlikheid en bedrog, die waarheid en doelbewuste wanvoorstellings, en wat feitelik en onwaar is. Dit is moeiliker as ooit om te weet wie en wat om te glo, en dit skep ’n vertrouenskrisis wat ons vermoë benadeel om dringende probleme te hanteer en op te los.

Ons kan selfs tot die probleem bydra wanneer ons versuim om aangebore vooroordele te ondersoek wat ons persepsies kan verwring en veroorsaak dat ons onverstandige vertrouensbesluite neem.

Struikelblokke te midde van die vertrouenskrisis

’n Aanvanklike stap sou wees om meer begrip vir vertroue te kry, en ons kan dit doen deur ’n aantal aangebore vooroordele te verstaan en te oorkom. 

In hierdie verband hou een van die prominentste menslike neigings wat bevraagteken moet word, verband met ons voorkeur om (slegs) inligting te vertrou wat ons eie wêreldbeskouing ondersteun. Hierdie neiging lei ook tot ernstige waardebotsings tussen sosiale groepe, wat dit selfs moeiliker maak om te besef watter gemeenskaplike belange en waardes daar moontlik is.

In noue samehang hiermee is ons geneigdheid om die menings van mense wat nader aan ons is en wat ons beter ken as meer geloofwaardig te beskou, terwyl ons ons oë toemaak vir insigte wat kom van diegene met wie ons nie gemaklik voel nie. Daar is niks verkeerd met die begeerte om te behoort nie, maar dit moenie veroorsaak dat ons so desperaat is om aan die groep lojaal te wees dat ons stilbly wanneer ons moet praat, ons integriteit inboet deur blind te bly vir korrupsie, ongeregtigheid ondersteun of ons besluitnemingsvaardighede verloor nie.

Oorbrug die vertrouensgaping

Wanneer ons probeer om die vertrouensgaping te oorbrug, moet ons oppas vir die vooroordeel van te veel selfvertroue, wat daartoe lei dat ons onsself as slimmer, kundiger en vaardiger beskou as wat ons werklik is. Hoewel selfvertroue as sodanig goed is, verblind te veel selfvertroue ons vir akkurate terugvoer uit die omgewing en vertroebel ons oordeel.

Hoewel die lys van moontlike vooroordele geensins volledig is nie, dien dit om ons sensitief te maak vir die moontlikheid dat ons onwetend tot die vertrouenskrisis bydra omdat ons kan optree op maniere wat ons eie beste belang dien, of ten beste dié van diegene wat ons as meer soos ons beskou, ten koste van die gesamentlike voordeel.

Die versuim om ons aangebore vooroordele te hanteer, kom op kortsigtigheid en ’n gebrek aan wysheid neer.

Dr Marita Heyns.

 

Submitted on Fri, 08/23/2019 - 14:40