Kom ons maak mynbou sexy

Professor Quentin Campbell van die Fakulteit Ingenieurswese aan die Noordwes-Universiteit (NWU) is welsprekend en het ’n manier om iets raak te vat. Toe hy dus sê “dit is tyd om mynbou sexy te maak”, het die teenwoordiges by die NWU se heel eerste mynbou-indaba met ’n grinnik regop gesit.

Prof Campbell het tydens ’n groepsessie as moderator gedien en sy spitsvondigheid het ’n paar van die afgevaardigdes se opmerkings opgesom. Die NWU se mynbou-indaba het plaasgevind om leiers in die mynbedryf byeen te bring met die NWU om ’n skool vir mynbou in die Rustenburg-gebied op die been te bring.

Die afgevaardigdes het saamgestem dat mynbou sy glans ietwat verloor het as ’n aanloklike beroep om voor te studeer en na te streef – iets wat aandag nodig het. Om te verseker dat die mynbousektor by van die skranderste jong denkers in die land kan baat vind, moet mynbou aanloklik gemaak word.

Een van die maniere om dit reg te kry, is deur inisiatiewe vir behoud, soos om mynbou te neem na waar voornemende studente sowel as mynbedrywe geleë is. In hierdie geval: Rustenburg en sy omliggende gemeenskappe .

“Ons moet ons talentpyplyn na die myne stabiliseer,” sê prof Bismark Tyobeka, hoof en visekanselier van die NWU.

Hy het ook gesê dat dit duidelik uit die indaba geblyk het dat die NWU op die regte pad is met hulle poging om in die behoeftes van die bedryf te voorsien, maar dat “ons ook ’n pad het om te loop”. Hy het die belangrikheid daarvan beklemtoon om te onderskei tussen die NWU se beoogde skool vir mynbou en die twee ander mynbouskole in die land, sonder om hulle teen mekaar af te speel. Dit is noodsaaklik dat al drie mynbouskole met mekaar saam werk om in die land se mynboubehoeftes te voorsien.

Die NWU stel ’n multidissiplinêre, multibelanghebber-benadering in die vooruitsig om dit reg te kry.

Die NWU se beoogde skool vir mynbou is ’n pakket wat ten doel het om voornemende studente aan te moedig om ’n loopbaan te volg op hierdie gebied, wat nie net oorvloedige geleenthede verskaf nie, maar ook van die uiterste belang vir die volhoubare groei van die land is. Die optimalisering van Suid-Afrika se skaars hulpbronne en die doeltreffende verspreiding daarvan is alles faktore wat in die kollig geplaas is, en so ook die navorsings- en vaardigheidsontwikkelingsgeleenthede wat samewerking tussen die NWU en die bedryf inhou.

Prof Tyobeka het met ’n knipoog ’n opsomming van sy indrukke van die indaba gegee: “Soos my kollega, Professor Quentin Campbell, daarvan hou om te sê: ‘Dit is tyd dat ons mynbou sexy maak’.”

Submitted on Thu, 04/04/2024 - 11:23