Koloniale tekste met ’n verskil verskaf insig vir vandag

Die voortgesette invloed van kolonialisme kan regoor die wêreld gesien word, aangesien dit ’n blywende impak op samelewings en kulture het. In Suid-Afrika was die nasleep van kolonialisme veral diepgaande en gekenmerk deur tye van Hollandse en Britse oorheersing.

’n Navorsingsprojek getiteld “Colonial Pasts and Transnational Futures”, wat deur die Nederlandse professor en navorser Tycho Maas gelei word, vors die koloniale tekste uit die Kaap deeglik na om op die komplekse erflating van kolonialisme lig te werp. Hy delf in hierdie 17de- en 18de-eeuse tekste as gedeelde erfenis tussen Suid-Afrika en Nederland om hulle potensiaal vas te stel om insig in die uitdagings van vandag se geglobaliseerde wêreld te verskaf.

Prof Maas het sy PhD in letterkunde aan die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van Amsterdam verwerf en ’n postdoktorale genootskap by die Noordwes-Universiteit (NWU) voltooi. Hy dien tans as assistentprofessor van Vroeë Moderne Tekstuele Kultuur by Utrecht Universiteit in Nederland, terwyl hy terselfdertyd die pos van ’n buitengewone navorser by die NWU se Skool vir Antieke Tekste beklee.

Tekste daag heersende narratiewe uit

“My doel met die projek is om die relevansie van hierdie tekste vir Suid-Afrikaanse en Nederlandse gehore te beklemtoon en hulle waarde as transnasionale hulpbronne uit te lig. Talle van hierdie tekste is histories verontagsaam as gevolg van hulle koloniale oorsprong en die taal waarin hulle geskryf is.

“Vir die letterkundige geskiedenis was hulle ook esteties minder aanloklik as byvoorbeeld soortgelyke genres uit Europa. Tog bied hierdie Kaapse tekste betekenisvolle nuanses wat in werklikheid algemene verhale van en oor die gebied uitdaag,” sê hy.

Deur te fokus op tekste wat oor die hoof gesien is, moedig prof Maas lesers aan om vanuit ’n vars perspektief na hierdie gedeelde erfenis te kyk.

“Talle van hierdie tekste is in vroegmoderne Nederlands geskryf, maar is nie na Europa geneem nie en het in biblioteke en argiewe in Suid-Afrika te lande gekom. Om die waarde van hierdie tekste te evalueer, het ’n mens begrip van die vroegmoderne Nederlandse taal en kultuur nodig, asook ’n vertroudheid met die Kaap se geografie en kultuur van daardie tyd,” sê hy.

Verskeie setlaars het byvoorbeeld die koloniale beleide gekritiseer wat deur die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie onderskryf is. Hulle eerstehandse ervarings verskaf ’n veelfasettige beskouing van die koloniale era, en beklemtoon die verskeidenheid opinies en standpunte wat in daardie tyd bestaan het.

“Dit is ’n byvoeging tot die korpus van skryfwerk oor die Kaap soos dit in Europa bestaan het en is ook waardevol wanneer die koloniale geskiedenis in ’n Suid-Afrikaanse konteks verstaan moet word.”

Lesse vir vandag uit die verlede

Die tekste wat sentraal staan in prof Maas se navorsing verskaf voorts ’n waardevolle perspektief vir die ondersoeking van eietydse wêreldwye uitdagings, soos konflik en migrasie.

Prof Maas was in November 2023 die mederedakteur van ’n spesiale uitgawe oor Afrikaans van die Nederlandse vaktydskrif vir wêreldletterkunde, Armada. Dit is aan die Suid-Afrikaanse ambassadeur S.Ed. Vusi Madonsela oorhandig, wat in sy toespraak by die oorhandiging die belangrikheid beklemtoon het van samewerking tussen sy land en Nederland om die uitdagings van ons geglobaliseerde wêreld aan te pak.

In die lig van die unieke en komplekse gedeelde geskiedenis van die twee lande, kan hulle voorbeelde uit die verlede vind vir transnasionale kwessies van die 21ste eeu en kan dit ’n bron van inspirasie vir die wêreld wees. Prof Maas moedig lesers aan om die verband tussen verskillende kulture en mense te ondersoek, insluitende die gebied van minderhede en rasse, deur koloniale tekste as gedeelde erfenis te bestudeer.

Studente van die NWU en die Utrecht Universiteit gaan in die akademiese jaar van 2024 saam aan ’n virtuele uitruilprojek werk. Die projek sal die studie van 17de- en 18de-eeuse tekste behels, met Nederlandse en Suid-Afrikaanse studente wat mekaar help om dit te verstaan.

Die studente sal hulle gedagtes met mekaar deel en die inhoud van hierdie tekste ten opsigte van die breër temas van kolonialisme, gedeelde erfenis en transnasionale perspektiewe ondersoek. Die projek ontvang befondsing van die Nederlandse Ministerie van Onderwys, Kultuur en Navorsing.

Prof Tycho Maas.

Die Suid-Afrikaanse ambassadeur S.Ed. Vusi Madonsela ontvang die spesiale uitgawe oor Afrikaans van die Nederlandse vaktydskrif vir wêreldletterkunde, Armada, van Prof Tycho Maas.

 

Koloniale tekste van die Kaap.

 

Submitted on Fri, 04/19/2024 - 10:05