Kollig val op die rol van ouers in die dissiplinering van leerders

Talle studies het ’n sterk korrelasie gevind tussen leerders se vlak van dissipline en hulle akademiese prestasie, met laasgenoemde wat verbeter namate die vlak van dissipline verbeter. Maar watter rol speel ouers in die dissiplinering van hulle kinders?

Dr Nicholas Mollo, senior dosent en subarealeier van Regsperspektiewe, Bestuur en Demokrasie in die Skool vir Professionele Studies in Onderwys aan die Noordwes-Universiteit (NWU), staan aan die hoof van ’n navorsingsprojek wat saam met ander navorsers gedoen word om die rol te ondersoek wat ouers in die dissiplinering van leerders speel, of behoort te speel – veral in die Suid-Afrikaanse konteks. Hierdie projek val onder die Edu-HRight-navorsingseenheid in die subgebied van Dissipline.

Net soos onderriginstellings ’n plig het om reëls af te dwing wat leerders se gedrag rig, speel ouers ook ’n rol om konsekwentheid te verseker. Die navorsing wat deur dr Mollo en sy medenavorsers uitgevoer word, fokus op die insameling van kwalitatiewe data van deelnemende skole deur werkswinkels te hou en inligting deur boekhoofstukke en artikels te versprei. Ouers se standpunte oor hoe hulle hulle kinders behoort te dissiplineer, sal ontleed en bespreek word.

“Die doelwit is om ouers toe te rus met kennis oor hoe om ouerlike deelname te verhoog, asook hulle rol in die dissiplinering van die leerders te vergroot. Prakties gesproke kan die studie deelnemers se bewustheid en begrip van hulle aandeel in die tugtiging van leerders verhoog,” sê dr Mollo.

Hy sê inligting oor hoe ouers hulle rol in die dissipline van leerders beskou, sal vir die Departement van Basiese Onderwys en vir skole van nut wees. Daarbenewens bied die resultate van hierdie studie voorstelle oor hoe die departement en die algemene publiek ouers kan aanmoedig om ’n aktiewe rol in hulle kinders se opvoeding te speel.

Dr Mollo sê deur die verskillende faktore wat ouers se perspektiewe bepaal, te herken en te respekteer, kan onderwysers en beleidsmakers met die ouers saamwerk om te verseker dat alle leerders die ondersteuning en leiding ontvang wat hulle nodig het om akademies en sosiaal te floreer. “Dit sal onderwysers se kapasiteit verhoog om aan die doelwitte van die departement te voldoen, en die departement se visie vir die lewering van opvoeding van ’n hoë gehalte bevorder,” voeg hy by.

Medenavorsers van Edu-HRight in hierdie studie sluit prof Johannes van der Walt, prof Charl Wolhuter, prof Nico Broer en dr Kgale Mampane in.

Vir verdere inligting, kontak dr Nicholus.Mollo@nwu.ac.za.

profs

Van links is dr Nicholus Mollo, prof Johannes van der Walt, prof Charl Wolhuter, prof Nico Broer, en dr Kgale Mampane.

Submitted on Mon, 07/31/2023 - 14:13