Koalisieregering omvat risiko’s sowel as geleenthede

“Teen die agtergrond van die tussentydse uitslag van die land se deurslaggewende 2024-verkiesing tot dusver is Suid-Afrika tans op ongekarteerde en onseker terrein, wat weerspieël word in die aanvanklike reaksie van die finansiële markte en die rand.”

Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, sê dat hoewel die ontwikkeling van koalisieregering, op nasionale sowel as provinsiale vlak, nie onverwags is nie, kan die presiese konfigurasie van koalisiereëlings ’n belangrike impak op Suid-Afrika se ekonomiese prestasie hê.

“Die uitdaging vir nuwe koalisieregering op nasionale en provinsiale vlak is om te verseker dat Suid-Afrika die hervormings implementeer wat nodig is om dit weer op ’n goeie ekonomiese pad te kry na etlike jare waarin heelwat ekonomiese agteruitgang plaasgevind het.”

Prof Parsons sê as die ANC as die grootste enkele party eindig, hulle steeds met ’n verstandige keuse van politieke vennote die tempo van groeivriendelike ekonomiese hervormings kan versnel.

“Heelwat sal afhang van die partye waarmee die ANC in vennootskap tree, en watter politieke gesmous nodig is om ’n stabiele regering te skep. Die onmiddellike vooruitsigte van koalisieregering omvat dus risiko’s sowel as geleenthede. Die uitdaging is nou om ’n raamwerk van stabiele regering te skep, wat nodig is om sake- en beleggersvertroue te bevorder.”

Volgens prof Parsons sal die bygewerkte Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) se aanbevelings vir die meeste naverkiesingskonfigurasies vir hierdie doel waardevol wees, as ’n mens aanvaar dat daar ’n begeerte is om ’n gunstige ekonomiese omgewing te skep waarbinne die privaat sektor kan floreer.

“As die bestaande ANC-benadering tot die implementering van beleid en projekte egter nie verbeter nie en heeltemal onveranderd bly, sal Suid-Afrika nie uit sy huidige strik van lae groei van 1% tot 1,5% ontsnap en ’n groter, sterker en beter ekonomie bou nie. Die gebrek aan doeltreffende implementering en dienslewering word algemeen as die grootste mislukking in Suid-Afrika se ekonomiese prestasie beskou. Toekomstige arbeidsryke groei vereis dat die tempo van groei-georiënteerde hervormings versnel moet word binne ’n makro-ekonomiese raamwerk wat doeltreffendheid, stabiliteit, konsekwentheid en sekerheid bied.”

Prof Parsons verduidelik dat dit ook nou meer uitdagend sal word om teen Suid-Afrika se skuldstrik weerstand te bied, tensy beloftes oor die NGV en die basiese-inkomstetoelae (BIG) wat tydens die ANC se verkiesingsveldtog gemaak is, hersien word teen die tyd dat die mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring in Oktober aangebied word.

“Daar bly dus ernstige risiko’s vir die fiskale vooruitsig. Suid-Afrika se risikopremie sal toeneem as die fiskale verbintenisse wat in die 2024/25-begroting in Februarie gemaak is, nie beslag kry nie. Die rigting van Suid-Afrika se ekonomiese en fiskale beleid sal dus ook afhang van wie die vakatures in die kabinet se ekonomiese groepering vul, veral by die Nasionale Tesourie.”

Hy sê hoe gouer koalisiekonfigurasies gefinaliseer word, hoe gouer kan die wyer implikasies vir die ekonomie behoorlik geïdentifiseer en bevestig word. “Die kwartaallikse Beleidsonsekerheidsindeks (BOI) van die NWU Besigheidskool wat aan die einde van Junie verskyn, sal weer enige veranderinge in die vlak van beleidsonsekerheid in die nadraai van Suid-Afrika se deurslaggewende 2024-verkiesing op 29 Mei kalibreer.”

Submitted on Fri, 05/31/2024 - 10:30