Klubspeler Kazlo spog met 50 eerstespanwedstryde

Om vir 50 eerstespanwedstryde vir jou rugbyklub op die veld te draf, is voorwaar ’n uitsonderlike prestasie. Dié eer het Kazlo Holtzhauzen van die Noordwes-Universiteit (NWU) se rugbyklub in Vanderbijlpark – die NWU Vaal Rugbyklub – vroeër vanjaar te beurt geval.


Die 27-jarige Kazlo blink nie net as speler vir die klub uit nie, maar ook as hulp- en skopafrigter. Volgens Kazlo bestaan daar ’n hegte band van broederskap tussen die spelers. “Die bestuur werk hard daaraan om ’n tradisie en kultuur te skep wat nie net goeie spangees tot gevolg het nie, maar ook oor die lang termyn volhoubaar sal wees.”

Gedurende die 2019-seisoen is Kazlo as die klub se Klubspeler van die Jaar aangewys. In dieselfde seisoen is hy ook as die eerste span se Agterlynspeler van die Jaar aangewys.

In reaksie hierop sê Kazlo dat dit nie vir hom gaan oor die aantal punte wat hy aanteken nie, maar eerder oor wat hy vir die span kan doen. As losskakel en stelskopper het hy weekliks die telbord aan die rol gehou, maar erken dat dit makliker is om te speel as om self af te rig.

“Dit is moeiliker om af te rig, want as jy speel, maak jy ’n verskil op die veld. As jy afrig, is dit moeilik om dieselfde impak te hê, want jy staan langs die kant,” meen Kazlo.

In sy laerskoolloopbaan het hy op sokker gefokus, maar tydens sy eerste jaar op hoërskool aan die King Edward VII School in Johannesburg, het sy liefdesverhouding met rugby begin.

Sy agtergrond as sokkerspeler het van hom ’n meer afgeronde en vlugvoetige rugbyspeler gemaak. Oor hierdie tyd in sy loopbaan, sê Kazlo dat die persoon wat die grootste invloed op hom as speler gehad het, sy hoërskoolafrigter was.

“Hy is vandag nog by die Goue Leeus se Cravenweek-opset betrokke en gee sy spelers die vryheid om hulleself op die veld uit te leef,” vertel Kazlo oor mnr Carl Spilhaus.

Hoewel die uitbreek van die koronavirus wêreldwyd deelname aan sport in die wiele ry, sien Kazlo daarna uit om hom verder as ’n afrigter te bekwaam. Hy het reeds as ’n IRB vlak 1-afrigter gekwalifiseer.

Kazlo and Sean Meijer (NWU Vaal Rugbyklub) tydens die 2019-prysuitdelingsfunksie.

 

 

Submitted on Mon, 07/20/2020 - 14:11