Die program verteenwoordig ’n dinamiese samewerkingsgeleentheid tussen die NWU en die Vives-kollege van Toegepaste Wetenskappe in België, en bied aan studente uit Europa en Afrika asook uit verskillende professionele dissiplines die geleentheid om internasionale en interdissiplinêre interaksie te ervaar.
Dit was hierdie jaar die eerste geleentheid ná die ondertekening van ’n memorandum van verstandhouding (MvV) in 2018, en is deur die NWU op sy kampus in Vanderbijlpark aangebied.
Aan die stuur van sake was prof Mirna Nel en haar Belgiese ampsgenoot, dr Nele van de Putte. Hulle het as projekleiers opgetree en die interdissiplinêre span gekoördineer wat bestaan het uit praktiserende vakkundiges, kundiges en studente in maatskaplike werk, sielkunde, opvoedkunde, bedryfsielkunde en verpleegkunde.
Skep van ’n bewustheid oor wêreldgrense heen
In haar verduideliking van die waarde van die program, sê prof Nel dat die sentrale doel van KIP is om ’n bewustheid onder vakkundiges op verskillende studiegebiede te skep dat idees, konsepte, perspektiewe en benaderings oor verskillende dissiplinêre en kontekstuele grense heen ’n breër en dieper insig in die begrip van hulle eie vakgebiede en professies kan meebring.
“In ’n wêreldwye ingewikkelde en komplekse sosiale wêreld is daar ’n behoefte om studente te ontwikkel in vakgebiede wat met geesteswetenskappe en gesondheid verband hou, en hulle bemagtig om ’n vakkundige diepte te deel, en ook om die bydrae van ander vakgebiede te waardeer, sodat daar in interdissiplinêre spanne saamgewerk kan word,” verduidelik sy verder.
Die sosiale verskynsel van boeliery is aangepak
Ná ’n intensiewe beraadslaging tussen die projekleiers en die interdissiplinêre spanne in 2018, is daar besluit dat die onderwerp van KIP2019 oor die sosiale verskynsel van boeliery sal wees, met ’n bepaalde fokus op kinders tussen die ouderdom van 12 en 14 jaar.
Gedurende die twee weke lange verloop van die program is die volgende aktiwiteite – met navorsing as ’n sekondêre doelwit – aangebied:
-
Die deel van kennis en ervaring
Studente en dosente het kennis en ervarings oor hulle hoëronderwysprogramme en -praktyke oor die algemeen uitgeruil, maar hulle het ook op interdissiplinêre spanwerk gefokus en hoe kontekstuele faktore in hulle onderskeie studies hanteer word.
- Interaktiewe werkswinkels
Verskeie werkswinkels is aangebied en dit is deur NWU-dosente van die fakulteite Geesteswetenskappe, Gesondheidswetenskappe, Opvoedkunde en Ekonomiese en Bestuurswetenskappe gefasiliteer. Teenwoordiges is tydens hierdie werkswinkels vanuit verskillende dissiplinêre en kontekstuele perspektiewe met kennis en begrip toegerus oor inklusiwiteit en welstand wat met boeliery verband hou.
- Informele institusionele besoeke
As deel van die program het die besoekende studente van België en hulle Suid-Afrikaanse eweknieë ’n aantal instellings, insluitende laerskole, werksentrums en plaaslike klinieke, in Sharpeville besoek. Hierdie besoeke het studente in staat gestel om hulle begrip en ervaring van interdissiplinêre spanwerk, en die belangrikheid van kontekstuele faktore wat met boeliery verband hou, te ondersoek.
Gegrond op die kennis en begrip wat tydens die verskillende aktiwiteite verkry is, het die studente ’n riglynprogram ontwikkel oor hoe om boeliery op ’n interdissiplinêre en inklusiewe manier te hanteer terwyl kontekstuele faktore in gedagte gehou word. Hierdie program sal gebruik word om voordiens- en indiensopleidingsprogramme op te stel.
Studente van die NWU en die Vives-kollege van Toegepaste Wetenskappe in België het saamgewerk en die sosiale verskynsel van boeliery ondersoek.
Deelnemers aan KIP2019 het verskeie instellings in Sharpeville besoek.