Bertie Jacobs
Wanneer talent en vasberadenheid saamspan, word geskiedenis gemaak. Die Noordwes-Universiteit (NWU) het vanaf 1 tot 12 April die heel eerste hokkiewêreldbeker onder die vaandel van die sport se wêreldreguleringsliggaam, die Fédération Internationale de Hockey (FIH), op die Afrika-vasteland aangebied: die FIH Junior Vrouehokkiewêreldbeker. ’n Kaptein was nodig om die land se groep spelers te lei, en Christa Ramasimong het na vore getree.
Hierdie 21-jarige student van die NWU, wat as verdediger speel, het die verantwoordelikheid op haar geneem en haar span tot ’n algeheel sewende plek gelei nadat hulle in die kwarteindrondte teen Nederland verloor het. ’n Totaal van vyftien spanne het aan die toernooi deelgeneem.
“Dit was ’n groot eer en voorreg om met die kaptein se armband om my arm op die veld te stap. Dit was werklik ’n wonderlike geleentheid om my land te verteenwoordig,” sê Christa.
“Ek het reeds op hoërskool as kaptein van sportspanne opgetree. Ek weet nie wat van my ’n goeie leier maak nie. Ek dink ek is ’n simpatieke persoon sonder vooroordeel. Ek respekter my spanmaats en my afrigters.”
Daar was talle uitdagings, maar dit was ’n leerervaring sonder weerga.
“Ek dink wat die seerste gemaak het, was om ten volle voorbereid te wees vir ’n wedstryd, maar om nie die resultaat te kry waarop ons gehoop het nie. Dit is ’n uitdaging om jouself reg te ruk, die span reg te ruk en om te kyk wat nie gewerk het nie.”
Sy verwys na die openingswedstryd teen Engeland as ’n uitstekende voorbeeld: “Ons was baie senuweeagtig. Dit was ons eerste wêreldbekerwedstryd en ek dink ons het as die gasheerland baie onnodige druk op onsself geplaas.”
Maar ons het geen berou nie. Inteendeel: “Ek kan sê dat ek die leier was van ’n span wat sewende in die wêreld geëindig het. Ek dink ons was sedert 2005 nog nooit in die toptien nie, dus is dit ’n lang tyd. Ek het my verwagtings oortref, en ek is oor niks jammer nie. Ons het almal ons beste gelewer. As 14 lede van die groep kan trots voel. As nuwe geslag het ons baie geleer en ons het baie om in die toekoms te gee.”
Christa is genooi om by die senior groep aan te sluit nadat sy haarself op die grootste junior platform in die wêreld bewys het. “Dit is wonderlik,” sê sy.
Haar onmiddellike toekoms lê op die 5 027 vierkante meter wat ’n hokkieveld uitmaak.
“Ek wil sien hoe ver ek met my hokkie kom en dan sal ek begin onderwys gee,” verduidelik die vierdejaar-BEd-student.
Wanneer sy nie op die hokkieveld is nie, geniet sy dit om te kuier saam met diegene wat haar na aan die hart lê.
“Ek hou daarvan om by vriende te wees, saam met hulle te ontspan en ’n braai te geniet. Benewens dit, leef ek vir hokkie.”
En hokkie baat daarby.