KANSA Relay for Life 2019: ons staan saam!

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark gaan op 28 en 29 September weer eens die gasheer vir die streek se KANSA Relay for Life-gebeurtenis in die Vanderbijlpark wees. 


Die kampus en die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) gaan hierdie jaar vir die sewende agtereenvolgende jaar hande vat om diegene wat kanker oorleef het se lewens te vier, om dié te onthou wat aan die siekte gesterf het, en om ’n bewustheid oor kanker te help skep.

Alle lede van die Vanderbijlparkgemeenskap word uitgenooi om hulle hardloopskoene aan te trek en aflosspanne te registreer om aan die geleentheid deel te neem. Die tema vir die 2019-weergawe is “die Middeleeue”, en oud en jonk word uitgedaag om volgens die tema aan te trek en ’n bydrae te lewer tot die feestelike atmosfeer waarvoor die gebeurtenis bekend is. 

Volgens Ronell Mitchell en Jailey Richardson, twee van die hoof-organiseerders, word die teiken vir hierdie jaar se gebeurtenis gestel op 2 000 deelnemers, en die bydraes op R400 000. 
Registreer vandag nog jou span!

As julle aan die aflos wil deelneem, moet julle ’n span van 10 tot 25 lede saamstel. Die spanne kan die korporatiewe sektor, vriende en familielede, klubs en skole, en selfs NWU-alumni verteenwoordig.  Kortom: ’n ieder en ’n elk is welkom.
Deelnemende spanne moet registreer en instem om hulle te verbind om spangeld van R700 te betaal.  Julle kan julle span registreer deur vir Ronell by 082 458 0878 of vir Jailey by 060 498 2195 te kontak. 

Meer oor die geleentheid

KANSA se Relay for Life is deel van ’n wêreldwye beweging wat kankeroorlewendes en die gemeenskappe wat vir hulle omgee, met mekaar verenig. Dit gee aan almal in ’n gemeenskap die geleentheid om aan die stryd teen kanker deel te neem, en diegene te eer wat deur kanker geraak is. Dit verteenwoordig ’n unieke gebeurtenis wat aan gemeenskappe hoop bied, dat almal wat die stryd teen kanker verloor het, nooit vergeet sal word nie; dat dié wat teen kanker veg, ondersteun sal word, en dat kanker eendag uitgewis sal word.

Deelnemers tree aan om aan die CANSA Relay deel te neem tydens ‘n vorige geleentheid op die Vanderbijlparkkampus.

Submitted on Tue, 07/09/2019 - 10:38