Kabinetskommeling sal deur uitkomste beoordeel word

“Die langverwagte besluit deur President Cyril Ramaphosa om sy kabinet opnuut saam te stel en ook om die bestaande vakante ministeriële sleutelposte te vul, sal in die tydperk wat voorlê deur die uitkomste daarvan beoordeel word.”

In sy kommentaar oor die skommeling van die kabinet wat op 6 Maart aangekondig is, sê prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, dat die keuses van ministers noodwendig die uitkoms was van ’n delikate navigasieproses van politieke kragte en belange wat die besluit oor die kabinet se uiteindelike, dog vergrote, samestelling beïnvloed het.

“Met persoonlikhede opsy geskuif en as daar gedink word aan die huidige uitdagende sosio-ekonomiese uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar, moet die nuutsaamgestelde kabinet nou die pas vir die dringende implementering van sleutelbeleide en -projekte vir die res van 2023 aangee.”

Volgens prof Parsons is dit die geval vir veral die sleutelportefeuljes wat die ekonomie raak, soos energie, vervoer, openbare administrasie en plaaslike regering.

Hy sê dat veral die nuwe Minister van Elektrisiteit ’n groot verantwoordelikheid het om te verseker dat die gebiedsprobleme wat Eskom lam lê inderdaad iets van die verlede sal wees, dat al die vername besluitnemers ten opsigte van die energiebeleid baie gou sal saamstem, en dat beurtkrag stelselmatig verminder sal word.

“Soos Ramaphosa beklemtoon het, bevestig Suid-Afrika se huidige politieke ekonomiese trajek dat die land nie nou die luuksheid van tyd het nie.”

Prof Parsons wys daarop dat daar ’n vertrouenskrisis is wat deur die nuwe kabinet bestuur moet word, met inagneming van die verklaring van ’n ramptoestand wat bestaan om die huidige energiekrisis te hanteer.

Hy sê dat die beleidsraamwerk waarbinne die nuwe kabinet moet werk, baie belangrik is. “Daar is inderdaad potensiële oplossings op probleme wat op die oog af onoplosbaar lyk – indien dit dringend en met skranderheid en met die samewerking van die privaat sektor hanteer word. Talle antwoorde vir die hersaamgestelde kabinet kan inderdaad voor die hand liggend wees.”

Volgens prof Parsons bly samehang en konsekwentheid in die implementering van beleid noodsaaklik om sakevertroue te bou. “Indien vertroue en geloofwaardigheid uiteindelik versterk moet word en onsekerheid verminder word, sal die bewys van ware leierskap soos ’n goue draad deur toekomstige kabinetsbesluite moet loop.”

Hy sê spertye moet gestel en afgedwing word, met gevolge indien dit nie gehaal word nie. “Daar is geen plaasvervanger vir volgehoue, gedissiplineerde politieke leierskap nie.”

Submitted on Tue, 03/07/2023 - 10:20