Pride-maand word elke Junie gevier en die vernaamste doel daarvan is om terselfdertyd die beweging vir LGBTQIA+-regte te eer en die gemeenskap se kultuur te vier. Kurt Naicker, senior lektor op die Vanderbijlparkkampus, deel sy gedagtes oor die ervarings van die LGBTQIA+-gemeenskap.
Kan jy jou indink hoe moeilik dit moet wees om elke oggend wakker te word, jouself uit die bed te sleep, en te maak of jy gelukkig is terwyl jy kantoor, skool of winkel toe op pad is? Wanneer jy die kantoor binnestap, word jy daaraan herinner hoe oorheersend die heteronormatiewe kultuur is, wat nie selfidentiteit erken nie en enige afwyking as ’n gruwel beskou. Die eenvoudigste ding, soos om badkamer toe te gaan, word ’n uitdaging wat oorkom moet word. Jy vrees die hele tyd veroordeling en diskriminasie omdat ander mense voel dat jy nie daar hoort nie.
As jy op bogenoemde vraag ja geantwoord het, vorm jy waarskynlik deel van ’n gemarginaliseerde gemeenskap. Indien jy nee geantwoord het, is dit dalk tyd om noukeurig te luister na die stemme wat jou omring en ’n bondgenoot van hierdie gemeenskap word.
Om Pride te vier, is meer as om erkenning aan ’n alternatiewe seksuele oriëntering te gee. Lede van die LGBTQIA+-gemeenskap hou vas aan die hoop dat hulle eendag ook in die straat kan loop en hulle lewensmaat se hand kan vashou, net soos ’n heteroseksuele paartjie, sonder dat hulle lelike aanmerkings hoef te verduur oor die manier waarop hulle hulleself uitdruk.
Jy word nie gevra om jou geloof en godsdienstige oortuigings op te gee nie, maar jy word gevra om vir alternatiewe leefstyle ruimte te laat, en dit sou ook so baie vir enige persoon beteken as jy vyf minute sou inruim om te verstaan wat dit beteken om so ’n bondgenoot te wees.
Ons gay broers en susters oral in die wêreld dra ’n enorme las op hulle skouers. Van die verwydering van gay-opvoeding uit kinders se skoolkurrikulums, tot mense wat ter dood veroordeel word as hulle sê wie hulle is. Mense wat gestenig word omdat hulle hulle lewensmaat in die openbaar gesoen het, en lewendig aan die brand gesteek word omdat hulle nie by die heteronormatiewe kultuur inpas nie.
Om as ’n LGBTQIA+-persoon na vore te kom, is ’n traumatiese ervaring. Jy hoef nooit te sê as jy heteroseksueel is nie, maar almal het vrae wanneer jy sê dat jy gay is.
Toksiese manlikheid het beslis al talle mans verhoed om hulle gevoelens bekend te maak, en studies het getoon hoe dit aggressie teenoor homoseksualiteit ontlok. Daar word van mans verwag om op ’n sekere manier op te tree. Mans mag nie swakheid toon nie en moet aan sekere sosiale standaarde voldoen, aangesien die samelewing aanhou om dit van hulle te verwag. Daar is talle sielkundige gevolge, soos depressie, erge aggressie, rusteloosheid en die onvermoë om empatie te toon. Dit lei tot verdere isolasie en aggressie, aangesien probleme nooit gekonfronteer word nie. Kan jy jou verbeel hoe dreinerend dit kan wees vir LGBTQIA+-mense wat met ’n innerlike konflik sukkel oor wie hulle is en hoe hulle hulleself aan die wêreld wil bekend maak? Waarom loof ons nie die mense wat die moed het om hulle waarheid uit te leef nie, veral wanneer hulle graag hulleself wil uitdruk met klere wat vir die teenoorgestelde geslag bedoel is?
Omdat hulle ’n alternatiewe leefstyl het, word gay paartjies aan indringende ondersoeke onderwerp wanneer hulle saam kinders wil hê. Benewens jou angs om ’n kind groot te maak, word jy ook deur mense rondom jou veroordeel omdat jy ’n kind op ’n onnatuurlike wyse wil hê, of daar word vir jou gesê dat ’n kind nie twee mammas of twee pappas kan hê nie. Waarom verstaan mense nie dat kinders liefde nodig het wanneer hulle grootword nie, en twee mense wat daartoe verbind is om vir hulle daardie liefde te gee wat hulle nodig het nie?
Talle tieners in Suid-Afrika ervaar reeds vroeg in hulle reis deur adolessensie ’n identiteitskrisis. Hulle gesinne vertel hulle dikwels dat hulle nie gay kan wees nie omdat dit onnatuurlik is, en dit word dan as reg beskou omdat godsdiens die basis is waarop hierdie argument gegrond word. Dit is so hartseer om te hoor van kinders wat selfdood gepleeg het omdat mense by skole geweldig wreed kan wees.
Ons is nog nie naby daaraan om hierdie tipe bekrompenheid in die wêreld te oorkom nie, maar enige stap wat jy neem, is ’n stap in die regte rigting, en dit is al wat gay mense vra. Skep ’n inklusiewe omgewing waar jy ook al is. As jy sien dat iemand hartseer is, gaan beur hulle op. As jy sien dat iemand alleen sit, gaan sit langs hulle en knoop ’n geselsie aan.
Jy het die mag om hierdie narratief vandag te verander. Maak net ’n verskil in een persoon se lewe. Dit hoef nie iets groots te wees nie, dit moet net ’n impak maak. Ek daag jou uit om welwillendheid vir Pride-maand en vir elke dag te kies. Vir elke kind wat nie deur hulle geliefdes aanvaar word nie omdat hulle hulle nie aan die gebruiklike godsdienstige oortuigings hou nie. Vir elke kind wat uit hulle huise geskop word of finansieel afgesny word omdat hulle ouers hulle as ’n skandvlek etiketteer, en hulle vrees dat hulle deur die samelewing bespot sal word. Vir elke kind wat dit oorweeg het om ’n einde aan hulle lewe te maak, omdat hulle glo dat hulle gelukkiger sal wees as hulle dood is as om in hierdie wêreld te leef. Help ons om die goeie stryd te stry en laat ons toe om te wees wie ons is.
Kurt Naicker