Jongste graderings bevestig die NWU se gehaltevakke weer eens

Is jy ’n gesondheidskundige of sielkundige, of wil jy graag hierdie vakke bestudeer?  Dit is bevestig. Die Noordwes-Universiteit (NWU) is net die regte plek om te wees vir ’n gehalte-opvoeding in hierdie velde.

Soos vorige graderings hierdie jaar, gee die jongste graderings deur Times Higher Education (THE) World Rankings per vakgebied erkenning aan die goeie stand van die NWU onder die beste hoëronderwysinstellings, plaaslik sowel as internasionaal.

Die NWU is oorhoofs teen 1 600 universiteite uit 99 lande en gebiede wêreldwyd gemeet. Die universiteit het uitnemend presteer in Kliniese en Gesondheidswetenskappe, waar dit – soos verlede jaar – in die 201-tot-250-kategorie geplaas is. Die universiteit het ook sy plek vir Sielkunde in die 300-tot-400-kategorie behou.

Die THE World Rankings per vakgebied vir 2022, wat op 16 September vrygestel is, beklemtoon spesifiek die gehalte van universiteite se vakaanbiedings. Die gradering meet tersiêre-onderwysinstellings se vakaanbod ten opsigte van onderrig, navorsing, kennisoordrag en internasionale status.

Die NWU is voorts in die 401-tot-500-kategorie vir Fisiese Wetenskappe, en in die 601-tot-800-kategorie vir Lewenswetenskappe geplaas.

Die NWU het uitstaande presteer op die onderskeie vakgebiede onder Suid-Afrikaanse universiteite. Dit was oorhoofs derde in Fisiese Wetenskappe en in Sielkunde, vierde in Kliniese en Gesondheidswetenskappe en sewende in Lewenswetenskappe.

Die THE World Rankings sal graderings per vakgebied in Ingenieurswese en Rekenaarwetenskap, Sosiale Wetenskappe, Besigheid en Ekonomie, Opvoedkunde en Regte in Oktober, en Kunste en Geesteswetenskappe in November 2021 aankondig.

In sy kommentaar oor die graderings sê prof Dan Kgwadi, visekanselier en hoof van die NWU, dat hierdie graderings die relevansie van die NWU se aanbiedings vir die bedryf, plaaslik sowel as internasionaal, beklemtoon.  

 “Ons is trots op ons prestasies, aangesien ons daartoe verbind is om ’n internasionaal-erkende universiteit in Afrika te wees. Ons bly verbind tot betrokke wetenskapsbeoefening, maatskaplike responsiwiteit en ’n sorgsaamheidsetiek.”

Hy sê dat die toekoms van nagraadse studies en navorsing deur transdissiplinêre navorsing, vennootskappe, samewerking en netwerke aangevoor sal word.

Die amptelike hutsmerk vir die THE World University Rankings per vakgebied is #THEUniRankings. Om meer oor die NWU se prestasie in die spesifieke vakgroepe te lees, besoek:

Fisiese wetenskappe

physical

Lewenswetenskappe

life

Kliniese en gesondheidswetenskappe

clinical

Sielkunde

psych

Submitted on Thu, 09/16/2021 - 16:24