Die Monetêrebeleidskomitee (MBK) het op 25 Mei eenparig besluit om rentekoerse met ’n verdere 50 basispunte (bsp) te verhoog, en risiko’s vir inflasievooruitsigte wat steeds hoog is, aangevoer. Die MBK se vernaamste bekommernisse draai steeds om die moontlike tweederondte-uitwerking van hoër wesensinflasie en wisselkoersrisiko’s.
In sy kommentaar oor die besluit sê prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, dat dit met die jongste skerp daling in die rand moeilik is om te sien hoe die MBK in die lig van onlangse inflasieskokke heeltemal onverskillig kon staan.
“Die een of ander reaksie deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) was nodig op die uitdagende ekonomiese omstandighede wat in die jongste MBK-verklaring uiteengesit word. Terselfdertyd het wesensinflasie sowel as fabriekshekinflasie nou in April sedert Maart verbeter.”
Volgens prof Parsons lyk dit waarskynlik dat inflasie om verskeie oortuigende redes sal voortgaan om oor die volgende paar maande geleidelik te daal. “Om inflasie te onderdruk, lui die gesegde, moet sentrale banke monetêre beleid verskerp totdat iets breek. Aangesien wêreldwye en plaaslike risiko’s vir inflasievooruitsigte die afgelope ruk toegeneem het, is dit te verstane dit die SARB sy basiese anti-inflasiemandaat afdwing.”
Hy sê egter ons moet in gedagte hou dat die MBK sedert die siklus om rentekoerse te verhoog in November 2021 begin het nou leenkoste met 475 bsp verhoog het. Leenkoste in Suid-Afrika is dus nou op die hoogste punt sedert 2010.
“In ’n poging om inflasie uit die stelsel te druk, maak monetêre beleid oor tyd altyd uitleners senuagtig, verbruikers- en besigheidskrediet duur en firmas versigtiger vir risiko, en dit kan tot werkloosheid lei – ten minste oor die kort termyn. En aanpassing by skokke soos die skerp daling in die geldeenheid is ook nooit maklik of sonder pyn nie.”
In die media-onderhoud ná die MBK-vergadering het die SARB se president erken dat daar ’n risiko is dat ’n resessie in die Suid-Afrikaanse ekonomie kan ontstaan. Prof Parsons wys daarop dat hoewel daar sekere uitvoerders is wat oor die kort termyn by die onderwaardeerde rand sal baat, ’n land in ’n ergste scenario dankbaar kan wees as dit slegs ’n tydelike resessie of tydelike inflasierondte is, eerder as ’n volgehoue vermindering in groeivooruitsigte en aanhoudende inflasie, of selfs ’n tydperk van stagflasie vermy.
Prof Parsons sê in Suid-Afrika se geval is daar gelukkig ’n vollediger mengsel van beleidsopsies beskikbaar om volgehoue stabiele groei te bevorder as dit dadelik geïmplementeer word om die ekonomie te ondersteun. Lesetja Kganyago, die SARB se president, het weer in ’n openbare lesing vroeër hierdie maand beklemtoon dat die regering dit vir die bank as gevolg van die negatiewe ekonomiese uitwerking van Eskom se beurtkrag en ’n onderpresterende ekonomie moeiliker maak om inflasie te beveg
“Daar is remediërendestruktuurfaktore in die Suid-Afrikaanse ekonomie wat ’n mens kan sê voor die hand liggend is. Dit sluit in om die skok van swaar Eskom-beurtkrag te versag, om geleidelik die impak van administratiewe pryse te verminder, kontroversiële geopolitieke keuses te nuanseer, en ander ekonomiese hervormings te versnel.”
Hy verduidelik dat die remedies dringend meer gelyke klem vir ’n meer gebalanseerde beleidsbenadering tot Suid-Afrika se inflasievooruitsigte vereis. Die verhoging van energievoorsiening sal veral die doeltreffendheid van monetêre beleid en die verband daarvan met die breër ekonomie verbeter. “Die SARB moet dus inflasie bekamp, met verskeie van die aandrywers vir inflasie sowel as groei in Suid-Afrika wat buite sy beheer lê. Die las om inflasie in die ekonomie te verlaag, kan dus nie deurlopend heeltemal op die skouers van die SARB geplaas word nie. ’n Holistiese benadering is nodig.” Volgens prof Parsons sal ’n meer samehangende en gekoördineerde oorkoepelende poging om uiters hoë beleidsonsekerheid (en verwante fiskale kwessies) te verminder, help om die koste van besigheid te verlaag, beleggersvertroue verhoog en groei ondersteun.
In sy Nobelprys-lesing in Stockholm verlede Desember oor die bankwese, krediet en ekonomiese skommelinge kon die voormalige voorsitter van die Amerikaanse Federale Reserwebank, Ben Bernanke, in ’n groot mate na Suid-Afrika se huidige ekonomiese dilemmas verwys het deur te beklemtoon dat wanneer daar ’n skok vir die ekonomie is, ’n energiekrisis wat inkomste en welvaart afdruk die eksterne finansieringspremie op die ekonomie verhoog, met ander woorde dit word moeiliker, kredietmarkte word minder doeltreffend, leners ervaar meer stres, banke word meer konserwatief, en dit verminder die beskikbare krediet en vergroot die skok. Dit maak die ekonomie nóg swakker as wat die aanvanklike skok gedoen het.” Hierdie ontleding vind breedweg weerklank in die risiko’s en dilemmas wat die Suid-Afrikaanse ekonomie in die algemeen en die MBK in die besonder tans in die gesig staar.
Die SARB se voorspellingsmodel (wat nou bygewerk gaan word) dui daarop dat elke 1%-verhoging van die repokoers BBP-groei jaarliks met ongeveer 0,17% verlaag. Dit moet egter op die oomblik gesien word in ’n besigheidsikluskonteks waarin die MBK se jongste BBP-groeivoorspelling vir 2023 as geheel op 0,3% staan.
Prof Parsons wys daarop dat die SARB se saamgestelde voorste besigheidsiklusaanwysers die afgelope paar maande hulle afwaartse tendens voortgesit het. “Met die erkende wêreldwye en binnelandse teenwinde waarvoor die Suid-Afrikaanse ekonomie tans te staan kom, is die monetêre beleid nou aan afnemende opbrengs onderworpe – gegee die talle onsekerhede waaroor dit geen beheer of die vermoë het om te voorspel nie.”
Hy sê ons moet dus hoop dat die jongste repokoersverhoging van 50 bsp vir eers die laaste is, en voldoende is om die verwagte daling in inflasie verder aan te spoor.
“’n Deurlopende bekommernis vir die MBK – nou en in die verlede – is die begeerte om hoër rentekoerse te handhaaf ten einde korttermyn- buitelandse kapitaal te lok, ’n faktor wat ook met die MBK se bekommernisse oor die wisselkoers verband hou.”
As ’n klein, oop ekonomie kan Suid-Afrika nie wêreldwye tendense ignoreer nie, maar die jongste data toon dat die rand nou hoofsaaklik deur binnelandse faktore afwaarts gedwing word. “Hierdie skok,” sê Brian Kantor, “is geheel en al ons eie skuld – die ernstige gevolg van die versuim om die ligte aan te hou en ons vriende versigtiger te kies” (Business Day, 18 Mei).
Prof Parsons verduidelik dat ’n verdere aggressiewe repokoersverhoging van selfs 50 bsp of 75 bsp nie langertermynsteun aan die rand sal verleen nie, tensy ander beleide geïmplementeer word om sommige van die risiko’s te hanteer wat tans by die prys van die geldeenheid ingesluit word.
Cambridge-ekonoom Gracelin Baskaran het onlangs gewaarsku dat jy rentekoerse net soveel kan verhoog voordat jy produktiwiteit, innovasie en groei meer breedweg versmoor namate die koste van kapitaal skerp toeneem – hoewel dit van die uiterste belang is, kan monetêre beleid nie die energiedilemma oplos nie (Business Day, 25 Mei).
“Gesien saam met die SARB se onlangse monetêrebeleidsoorsig wat waarsku dat, met inagneming van die gewone tydsvertragings, die volle impak van die kumulatiewe koersverhogings nog gevoel moet word, en met die beskrywing van BBP-groei in Suid-Afrika as ‘broos’, verhoog die jongste MBK-besluit onvermydelik die risiko vir oordrywing in die ekonomie.”