Jong wetenskaplike gaan die gesogte Lindau Nobel-pryswennersbyeenkoms bywoon

Dit is ’n droom van talle jong wetenskaplikes – om in die teenwoordigheid van die wêreld se mees geëerde wetenskaplike denkers te wees. Hierdie droom word vir ’n gegradueerde van die Noordwes-Universiteit (NWU) bewaarheid. Dr Sarah McKee is een van die agt jong wetenskaplikes van Suid-Afrika wat gekies is om die 73ste Lindau Nobel-pryswennersbyeenkoms in Duitsland by te woon.

Sarah werk by die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimte-agentskap (SANSA) in Hermanus. Sy het op 3 Mei vanjaar met ’n PhD aan die NWU gegradueer. “Ek is geëerd en dankbaar om vir hierdie geleentheid gekies te word, maar is terselfdertyd bewus van die verantwoordelikheid om die naam van my land en van my instellings, SANSA en die Sentrum vir Ruimtenavorsing aan die NWU, hoog te hou.”

Die jaarlikse Lindau Nobel-pryswennersbyeenkomste verskaf ’n forum vir jong wetenskaplikes van regoor die wêreld om skouers te skuur met Nobelpryswenners en oor navorsing en oorkoepelende loopbaanbestuursaspekte te praat. Hierdie jaar se byeenkoms sal vanaf 30 Junie tot 5 Julie plaasvind.

Sarah verduidelik dat die byeenkomste ’n besprekingsformaat aanneem. “Op ’n manier is dit soos ’n oopmikrofoonsessie. ’n Nobelpryswenner noem ’n onderwerp en die geselekteerde jong wetenskaplikes maak beurte om ’n bydrae te lewer. Deelnemers moet dan ’n nuwe idee aan die paneel pryswenners voorlê, of een wat op ’n sekere gebied geld kan inbring. Dit kan daartoe lei dat hulle by een van die Nobel-navorsingsgroepe ingesluit word.”

Ervaring en siekte het Sarah vir die byeenkoms voorberei

Die Akademie vir Wetenskap van Suid-Afrika (ASSAf), as die amptelike vennoot van die Lindau-stigting, en met befondsing van die Departement van Wetenskap en Innovasie (DWI), benoem jong wetenskaplikes van Suid-Afrika om die jaarlikse Lindau Nobel-pryswennersbyeenkomste by te woon.

Volgens Sarah het deel van die aansoekproses behels dat sy ’n motiveringsbrief geskryf het oor haar ervarings en wat sy beplan om in die toekoms te bereik. “Ons moes ook idees deel oor hoe ons ’n bydrae kan lewer om ernstige probleme soos klimaatsverandering wêreldwyd te verstaan.”

Sarah glo dat sy op grond van twee redes gekies is. Sy het eerstens aan projekte in verskeie vakgebiede in fisika, soos onder andere vastetoestandfisika en kristallografie, astrofisika en ruimteweer, gewerk. Hierdie ervaring sal haar in staat stel om ’n betekenisvolle bydrae te lewer tot die breër doelstelling van die fisikabyeenkoms, waar idees uitgeruil en oplossings daarvan afgelei word. Tweedens het sy ’n dodelik siekte oorleef terwyl sy met haar PhD-studie besig was. As gevolg van die siekte moes sy tydens die tweede jaar van haar PhD-studie weer leer loop.

“Die siekte het aan my ’n unieke perspektief op die lyding van mense, en spesifiek in Suid-Afrika, gegee. Ek wil die lewens van mense verbeter en het besluit dat ek as deel van my toekomstige loopbaan ’n bydrae kan lewer oor onderwerpe wat aansteeklike siektes in Afrika insluit.”

Skuur skouers met beroemde wetenskaplikes

Sarah sê sy is baie opgewonde om haar idees met van die mees gerespekteerde wetenskaplikes in die wêreld te deel en terugvoer van hulle te ontvang. “Ek wil meer leer oor hoe fisika gebruik kan word om mense te bemagtig. Die byeenkoms skep ook die geleentheid vir ’n nuwe netwerk van inspirerende vriende en kollegas.”

Sy glo dat die eer om na so ’n byeenkoms genooi te word haar nie beskore sou gewees het sonder die ondersteuning van haar kollegas by die NWU nie. “Dit het werklik gehelp om die geleentheid te kry om aan ’n universiteit te studeer wat ’n kultuur van uitnemendheid het – oor hoe ons onsself laat geld, asook in ons akademiese loopbane.”

Haar raad aan studente wat ook hoop om nuwe hoogtes en eer in hulle loopbane te bereik? “Moet nooit die krag van klein beginpunte onderskat nie. Konsekwentheid en toewyding is twee beleggings wat jy vandag kan maak en wat jou later sal beloon.”

....

Dr Sarah McKee het in Mei hierdie jaar haar graad ontvang. Haar PhD-studies was ’n samesmelting tussen die studie van lugvaart in Afrika suid van die Sahara en die studie van uiterste ruimteweerstoestande. Sarah het die uiterste manifestasies van ruimteweer ondersoek, insluitende sonvlamme en korona-massa-uitskietings, en hoe dit die veiligheid en funksionaliteit van die lugvaartprosesse kan beïnvloed. Sy het gevind dat baie groot radio-uitbarstings vanaf die son ’n baie gevaarlike reeks gebeure aan boord van ’n vliegtuig kan veroorsaak, waartydens navigasie en kommunikasie kan wegraak.

Submitted on Tue, 05/07/2024 - 12:08