Afrika het volop plante wat vir voedsel en medisyne gebruik kan word, en ’n jong plantkundige aan die Noordwes-Universiteit (NWU) en sy navorsingsmedewerkers is vasbeslote om te verseker dat gemeenskappe self uit die ryk plantlewe rondom hulle voordeel trek.
Medeprofessor Oladapo Aremu van die Inheemse Kennisstelsels in die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe by die NWU sê die wetenskaplike ekostelsel moet relevant wees vir die huidige nasionale behoeftes indien navorsing werklik ’n impak op die lewens van gemeenskappe moet hê. Om dit te bereik, is daar ’n behoefte aan ’n gelyke speelveld, met koördinasie, samewerking en medebestuur van hulpbronne as kern.
Prof Aremu het met twee van sy eweknieë saamgewerk aan ’n wetenskaplike publikasie wat die hermodulering van navorsingsagendas voorstaan. Hulle is dr Tozama Qwebani-Ogunleye van die Vaal Universiteit van Tegnologie, en prof Pradeep Kumar van die Universiteit van die Witwatersrand. Hierdie hermodellering behels dat navorsing gedoen moet word deur uitkomste te prioritiseer sodat gemeenskappe direk daarby kan baat.
Die navorsingstuk is in Maart vir publikasie gekies deur die gerekende aanlyn vaktydskrif Nature Review Chemistry (met ’n impakfaktor van 34,035).
Dit was vir prof Aremu ’n groot eer dat sy navorsing op hierdie manier erkenning ontvang het. As lid van die Suid-Afrikaanse Jong Akademie vir Wetenskap (South African Young Academy of Science, SAYAS), is hy passievol oor navorsing in plantkunde. Hy glo dat navorsing op hierdie gebied veral ondersteun moet word deur die inheemse kennis van die gemeenskappe waar die navorsing uitgevoer word en dat dit tot hulle voordeel moet wees.
Hierdie navorsingstuk is die resultaat van prof Aremu en sy navorsingsmedewerkers wat die situasie in gemeenskappe ondersoek het in die twee jaar sedert die Covid-19-pandemie begin het.
“Ons het gekyk na die uitdagings wat gemeenskappe ervaar en met hulle gesels om vas te stel hoe hulle in hierdie beproewende tye die mas opgekom het. Ons het op grond van besprekings en ons ervarings tot die slotsom gekom dat navorsers hulle prioriteite duidelik moet stel op hulle pad vorentoe. Dit is belangrik om ’n gesamentlike leierskap te demonstreer, asook verantwoordelike samewerking, sodat daar verseker kan word dat ons navorsing in werklikheid die gemeenskappe dien oor wie ons navorsing doen.”
Om die hele navorsingstuk te lees, besoek https://www.nature.com/articles/s41570-022-00381-x.
Die krag van plante
“My navorsing het oor die algemeen die dokumentasie, bewaring en bevordering van inheemse kennis behels. As plantkundige fokus ek op plante deur navorsing te doen oor hulle veiligheid vir gebruik en hulle biologiese doeltreffendheid, asook hulle bewaring en ekonomiese potensiaal,” sê prof Aremu.
Prof Aremu, ’n alumnus van die Universiteit van KwaZulu-Natal, het in 2017 by die NWU aangesluit. Hy het aanvanklik daarvan gedroom om ’n mediese dokter te word, maar sy fokus het vinnig verskuif na die ryk biodiversiteit wat Afrika, en veral Suid-Afrika, het om te bied.
“Afrika het geweldig baie verskillende plante wat nie net vir voedsel gebruik kan word nie, maar ook vir medisyne. Plante bestaan hoofsaaklik uit ’n beduidende hoeveelheid geneesmiddels wat gebruik word om siektes te behandel. Ek glo dat deur die krag van hierdie plante te ontgin, ons werklik selfonderhoudend kan wees en gemeenskappe kan ophef.”
Die toekoms is samewerking en harde werk
Prof Aremu was ’n produktiewe navorser wat tans by verskeie navorsingsprojekte betrokke is. Hy is op grond van sy navorsingsuitset as lid van die wêreldwye jong akademie (Global Young Academy) gekies – die enigste navorser van Suider-Afrika om in 2022 hierdie eer te ontvang. Prof Aremu is ook die huidige ondervoorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plantkundiges – die top- professionele liggaam vir plantkundiges in Suid-Afrika.
“As jong navorser is ek daarvan bewus dat die navorsingslandskap in Suid-Afrika baie mededingend raak. Ek glo dat navorsers eerder moet saam werk as wat hulle mededingers is. Ons het almal dieselfde doel en moet dus probeer om ons gemeenskappe en die wêreld se probleme saam op te los,” sê hy.
Sy toewyding aan samewerking is ’n belangrike bousteen van sy lidmaatskap van die SAYAS en as ’n jong geaffilieerde van die African Academy of Sciences. Dit is ook waarom hy ander jong navorsers aktief aanmoedig en as mentor vir studente optree.
“My boodskap aan die studente is dat daar geen kortpad is om harde werk te vermy nie. As jy ’n goeie navorser wil wees, moet jy tyd belê in wat jy doen. Bestee genoeg tyd in die veld en in laboratoriums en stel werklik belang in wat jy doen. Sonder passie en harde werk sal jy waarskynlik nie vreugde vind in wat jy doen nie, en vreugde is die hoeksteen van vervulling,” voeg hy by.
Prof Aremu se volgende navorsingsprojekte is op Noordwes gefokus. “Wat navorsing betref, lyk dit of hierdie provinsie baie verwaarloos word. Daar is so ’n groot klomp inheemse kennis in hierdie gebied beskikbaar. Ek het nou begin om te kyk na die plante wat plaaslik as medisyne gebruik word, onder andere vir velsiektes, die welstand van kinders en die verbetering van landbou-aktiwiteite, insluitende veeboerdery (etno-veeartspraktyke).”
Prof Oladapo Aremu