Jong navorser skitter by die Suid-Afrikaanse Vroue in Wetenskap-toekennings

’n Navorser van die Noordwes-Universiteit (NWU) het die instelling trots gemaak toe sy by die onlangse Suid-Afrikaanse Vroue in Wetenskap-toekennings (SAWiSA)* erkenning ontvang het as een van die topdrie navorsers in die geesteswetenskappe en sosiale wetenskappe.

Prof Shan Simmonds was in die derde plek in hierdie kategorie vir jong navorsers onder die ouderdom van veertig. Sy het op 8 September in Durban die Suid-Afrikaanse Voortreflike Jong Vroue in Wetenskap-toekenning (Distinguished Young Women in Science Award) ontvang. Hierdie toekenning word gegee vir buitengewone bydraes in die bevordering van wetenskap en die bou van kennis op spesifieke navorsingsgebiede.

Sy is tans ’n volle professor in Kurrikulumstudies en ’n subarealeier van die navorsingseenheid Edu-HRight (Onderwys en Menseregte in Diversiteit).

“My navorsing pak die uitdagings aan wat transformasie in hoër onderwys in die gesig staar deur by moeilike kurrikulumgesprekke betrokke te raak. Om die derde plek te behaal in die Suid-Afrikaanse Voortreflike Jong Vroue in Wetenskap-toekenning (Geesteswetenskappe en Sosiale Wetenskappe) is ’n bewys van my vakkundige aktivisme met betrekking tot die immerveranderende en deurlopend uitdagende intellektuele wêreld van Kurrikulumstudies,” sê prof Shan.

Sy is toegewy aan deurlopende generatiewe bespreking oor transformasie in hoër onderwys en is een van die stigterslede en tans die redakteur van die geakkrediteerde vaktydskrif Transformation in Higher Education.

Prof Shan was een van die primêre betrokkenes om hierdie tydskrif te laat gedy en toe te sien dat dit in 2021 akkreditasie ontvang. Die tydskrif word op indekse soos Scopus, ProQuest, ERIC, EBSCO Host en DOAJ gelys.

Haar akademiese loopbaan het in 2011 by die NWU begin toe sy as lektor by die universiteit aangesluit het. Sy het in 2013 haar PhD-graad voltooi. Prof Shan het haar doktorale studies verdeel tussen die Universiteit Stellenbosch en die Vrije Universiteit van Amsterdam as deel van die Suid-Afrikaanse Vrije University Strategic Alliance se internasionale beurstoekenning.

Sy het ’n Inter-Gender-navorsingskooltoekenning, befonds deur die Sweedse Navorsingsraad (Vetenskapsrådet), asook die Navorsingskapasiteitsinisiatief (RCI) SANPAD (Suid-Afrika-Nederland Navorsingsprogram oor Alternatiewe in Ontwikkeling) se beurs ontvang.

Akademiese loopbaan baan die weg vir internasionale leierskap

Prof Shan se internasionale reputasie is duidelik uit haar aanstelling as die Suid-Afrikaanse verteenwoordiger vir die Women in Higher Education Management (WHEM) Netwerk, wat ’n internasionale feministiese navorsingskonsortium is. Sy en haar WHEM-kollegas het stroom 10 van die 2023 Gender, Work and Organisation- internasionale konferensie bestuur. Hulle het ook ’n boekpublikasieprojek aan die gang.

Sy dien ook op die uitvoerende komitee van die Internasionale Vereniging vir die Bevordering van Kurrikulumstudies (IAACS).

Sedert sy haar studies voltooi het, het prof Shan ook verskeie ander leierskapsposisies beklee. Dit sluit in dat sy sedert 2019 op die uitvoerende komitee van die South African Education Research Association (SAERA) dien. Sy is tans die visevoorsitter van SAERA.

*Die Departement van Wetenskap en Innovasie (DWI) is jaarliks die gasheer vir SAWiSA om vroue in wetenskap en tegnologie te vier.

....

Prof Shan Simmonds saam met dr Blade Nzimande, Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie.

Foto verskaf.

Submitted on Wed, 09/13/2023 - 12:52