Jo-Ané gaan Spele toe

Sy is die kanonarm van 1 NWU-Bataljon wat oor slegs ʼn paar weke saam met haar landgenote hulle veldtog in die Stille Oseaan-teater van stapel gaan stuur. Ja, Jo-Ané van Dyk gaan Olimpiese Spele toe.

Dié 23-jarige spiesgooier van die Noordwes-Universiteit het onlangs met ʼn persoonlike beste gooi van 61,19 m, ’n lys skittervertonings, asook ʼn plek as een van die 32 beste vrouespiesgooiers in die wêreld, haar weg tot op die wêreld se grootste atletiekverhoog gebaan.

Op 3 Augustus in Tokio, Japan gaan al wat ondersteuner is se oë op Jo-Ané gerig wees wanneer sy gaan poog om vir die eindrondte van haar item te kwalifiseer. Druk, druk en nogmaals druk, of hoe? “Nee wat,” lag die voormalige matrikulant van Hoërskool Outeniqua, “dit is nog besig om in te sink – ek dink ek is nog ʼn bietjie in ontkenning. Ek is wel baie opgewonde. Om te kwalifiseer vir die eindrondte is dalk die stresvolle deel, maar ek is glad nie bang nie. Ek het al teen baie van die groot name deelgeneem, en met al die adrenalien wat deur jou vloei op die dag, kan enige iets gebeur.”

“Dit is ʼn droom wat waar word. Toe ek uitvind, het ek vir my ma gesê dat ek, toe ek klein was, hulle altyd laat weet het dat ek eendag Olimpiese Spele toe gaan.”

Ná haar uitstekende 61,19 m-gooi in die Tsjeggiese Republiek voel sy ook dat haar peil die beste nóg is en voorsien sy ook nie dat Covid-19-inperkings in Japan haar gaan onderkry nie. Inteendeel. “Ek dink dit gaan my eintlik help. Daar gaan minder afleidings wees, minder tyd vir rondbeweeg, en dus gaan ek net soveel meer gefokus wees.”

Haar afrigter, Terseus Liebenberg, stem saam dat Jo-Ané haar kaartjie na die Land van die Opkomende Son dubbel en dwars verdien.

“Ek is ongelooflik bly vir haar. Sy is ʼn pligsgetroue, harde werker wat nog nie een oefensessie gemis het nie. Sy het talent ontvang en sê dankie daarvoor deur hard te werk. Dit is enige iemand se droom om Spele toe te gaan en nou kan sy haar kans aangryp. Soos ek altyd vir haar sê: Geniet die oomblik, wees in die oomblik en wéés die oomblik.”

Jo-Ané van Dyk se tyd is nou.

Submitted on Thu, 07/15/2021 - 09:03