Jean Tiedt: Koning van verdediging

Rugby het verander. Dit het ontwikkel. Kyk maar na van die wedstryde in die 70’s, 80’s en vroeë tot middel-90’s. Dit was ’n bietjie van ’n deurmekaarspul, was dit nie? Daar was min struktuur (in elk geval nie soos vandag nie) en dit was meer van ’n skermutseling as ’n kliniese vertoning. Ja, daar was ’n paar asemrowende drieë, maar dit was omdat verdedigers meer op verdediging staatgemaak het as op geoefende patrone en noulettende ontleding van hulle teenstanders se aanvallende spel. Daardie dae is verby en afrigters vir verdediging, soos Jean Tiedt van die Noordwes-Universiteit (NWU), is besig om die moderne spel heeltemal te verander.

Tiedt was deel van die kerngroep afrigters wat die NWU Eagles gehelp het om die universiteit se tweede Varsitybekerkroon in te palm. Hy was ook een van die afrigters van die span wat die 2016-kompetisie gewen het. Tiedt se toewyding aan verdediging is net legendaries. Die aantal notas wat hy tydens ’n wedstryd maak, moet gesien word om te glo, en sy ontleding van die teenstanders se spelplan laat jou kop draai.

Ná die Eagles se 19-10-oorwinning in die semifinaal teen Maties by die Fanie du Toit Sportterrein in Potchefstroom, het die hoofafrigter, Burger van der Westhuizen, teen die hoofpawiljoen opgestap en gesê: “Ek weet nie hoe Jean dit reggekry het nie.” Die Eagles het soos die Spartane by die Veldslag van Thermopylae verdedig.

Tydens die 2023 Varsitybeker-kompetisie het die Eagles verreweg die minste drieë afgestaan, en wat verdedigende statistieke behels, is hulle in ’n hele aantal boaan die lys vir die kompetisie. Die Eagles het hulle doellyn met waansinnige vasberadenheid beskerm, maar die presisie van die uitvoering daarvan was ook een van die kenmerke van hulle veldtog.

Op ’n fris Donderdagoggend, net ’n maand ná die Eagles se ongelooflike 27-25-oorwinning in die finaal op hulle tuisveld, sit Tiedt in ’n plaaslike koffiewinkel en word weer eens met hulle geskiedkundige oorwinning gelukgewens. Hy glimlag dankbaar en aanvaar met nederigheid die kompliment van ’n plaaslike ondersteuner.

“Ek dink die 2016-oorwinning het vir meer vreugde gesorg – hierdie laaste oorwinning het egter baie meer verligting gebring. Ons het boaan die punteleer geëindig en het die tuisveldvoordeel gehad. Dit het baie druk op die afrigters geplaas. Dit bly ’n wonderlike gevoel, maar dit was ook ’n groot verligting. In 2016 was ons nie veronderstel om teen Maties op hulle eie werf te wen nie, dus was dit heeltemal ’n ander gevoel,” sê Tiedt, terwyl hy aan sy flat white latte teug.

“Die ouens het tydens die kompetisie so goed verdedig. Daar was geen lynbreke vanaf die afskop teen ons nie, en ook geen drieë vanaf skrums nie. Ek werk nou al drie of vier jaar lank met van die spelers, dus het sowat 90% van hulle presies geweet wat hulle rolle is. Ek moes hulle net daaraan herinner.”

Volgens Tiedt was die Eagles se vierde wedstryd van die toernooi teen Tukkies waarskynlik hulle heel noodsaaklikste oorwinning. Die Eagles het die vorige week hulle eerste en enigste nederlaag van die kompetisie ervaar toe hulle 28-31 teen Maties verloor het. Die jaarlikse kampioene en finaliste, Tukkies, het drie agtereenvolgende wedstryde verloor en was vasberade om hulle veldtog weer aan die gang te kry.

“Die wedstryd teen Tukkies in Pretoria was so belangrik. Ons het baie beter gespeel as teen Maties, maar ons dissipline was swak. Ons het geweet dat Tukkies alles in hulle vermoë gaan doen om te wen, maar ons het dit gemaak.”

Tiedt is ook vol lof vir die manier waarop die afrigtingspan as ’n eenheid funksioneer: “Burger het vir ons die vryheid gegee wat ons nodig het. Hy het baie vrae gevra, maar nie met ons taak ingemeng nie. Ons het sy volle ondersteuning. Ek en Chaka (die voorspelerafrigter Chaka Willemse) werk nou al ’n rukkie lank saam, en daar is baie interaksie tussen ons dissiplines. Ons het ’n wonderlike werksverhouding. Bert (Moolman, die kondisioneringsafrigter) het seker gemaak dat ons spelers op hulle optimale vlakke funksioneer en dit was fantasties om te sien.”

Toe die son op Dinsdag 18 April opkom, het die drietal – Van der Westhuizen, Tiedt en Willemse – op ’n bank in die middel van die Fanie gesit. ’n Nuwe dag het gebreek, daar was nuwe uitdagings wat voorlê en nuwe geleenthede het gewink. Tiedt het sy mede-afrigters gegroet, die Varsitybekertrofee geneem en huis toe gegaan. Hy het die vreugde met sy vrou, seuntjie en dogtertjie gedeel en hulle kon saam die Varsitybeker se mees gesogte prys omhoog hou. Toe het hy sy kinders skool toe geneem.

Vir hierdie perfeksionis, hierdie werkesel, was dit terug na die soutmyn. Terug om die doellyn met alle mag te verdedig.

 

....

Jeant Tiedt (middle) saam met van die NWU Rugbyinstituut breintrust en die Varsitybeker-trofee.

....

Jean Tiedt (links) saam met die voormalige NWU-ster, Lucian Cupido, en Burger van der Westhuizen.

 

Submitted on Fri, 06/02/2023 - 15:24