“Jaws” en toerisme

Dit was 1975 en die konsep van die “lokettreffer” was nog in sy kinderskoene. ’n Jong regisseur genaamd Steven Spielberg het Peter Benchley se angswekkende roman Jaws in ’n eerste bona fide somerskouspel omskep, wat die moderne fliek vir ewig verander het. Dit wat eens op ’n tyd bewonder is, is nou gehaat en gevrees.

Haaie: groot visse met vlymskerp tande wat jou klein liggaampie meedoënloos jag. Spielberg en Benchley was later albei spyt dat hulle daardie beeld van haaie in ons psige ingeprent het. Baie jare het sedertdien verloop, maar ons betowering met hierdie vriende met vinne het nog nie afgeneem nie, en die toerismesektor beaam dit.

’n Studie deur die Noordwes-Universiteit (NWU) se navorsingseenheid Toerismenavorsing in Ekonomiese Omgewings en die Samelewing (TREES) getiteld “I Would Die to See One: A Study to Evaluate Safety Knowledge, Attitude, and Behaviour Among Shark Scuba Divers” bewys dit, en nog meer.

Volgens die studie is haaiduiktoerisme ’n aktiwiteit wat ’n beduidende bydrae tot ekonomieë aan die kus kan lewer, terwyl dit ook geweldig help om die haaibewaringspogings te bevorder.

Nietemin, soos enige vorm van wildgebaseerde toerisme, het haaiduik bestuursuitdagings wat met etiese en veiligheidsregulasies gepaard gaan.

Die studie – wat deeglike onderhoude en ’n omvattende vraelys gebruik het – het gevind dat daar ’n behoefte is om ’n begrip onder skubaduikers te skep vir die verband tussen haaiduikveiligheid en die bewaring van haaiduiktoerisme en van die haaie vir die toekoms.

“Die resultate beklemtoon die behoefte om ’n begrip onder skubaduikers te skep van die verband tussen haaiduikveiligheid en bewaring, insluitende die negatiewe implikasies wat die verbreking van veiligheidstandaarde, hetsy groot of klein, vir die toekoms van haaiduiktoerisme en dié van haaie inhou.”  

Haaiduik is ’n groeiende toerismebedryf met groot potensiaal, en as dit binne die beperkings van die huidige marienebewaringswette plaasvind, kan dit ’n groot bydrae tot die bewaring van haaie lewer.

Dit is nodig dat haaie van antropogeniese druk soos visvang gered word. As dit kan plaasvind met toesighouers wat die veiligheid van duikers kan verseker terwyl daar terselfdertyd vir die toenemend delikate omgewing van die habitat van haaie gesorg word, sal almal daarby baat.

Submitted on Tue, 03/16/2021 - 14:32