Janco: Voet gebreek, maar slaggereed

Van uitdagings hoef jy hom niks te vertel nie. Hy is immers ’n swemmer wat al sy provinsie, Noordwes, op nasionale vlak verteenwoordig het. Ure se sweet in die gimnasium? Geen probleem nie. Dit juis al die sweet in die water en met gewigte wat dáái paar skouers gebou het waarop sy volgende uitdaging, en sy volgende verantwoordelikheid, rus.

Die 18-jarige Janco Viljoen, ’n matrikulant van Hoërskool Rustenburg, het hom vanjaar as eerstejaarstudent vir ʼn BSc in Dierewetenskappe by die Noordwes-Universiteit (NWU) ingeskryf. Sy nuwe tuiste is die NWU se kampus in Mahikeng en die Dr James Moroka-manskoshuis.

 “Om alleen te bly en self kos te maak is nogal ʼn aanpassing,” skerts hy. Dan is daar ook sy nuwe akademiese verpligtinge. “Dit is heelwat meer werk as wat ons op skool gekry het,” bieg hy.

“Mahikeng was die beste opsie vir my. Ek het nog altyd ʼn passie vir boerdery gehad en hier kan ek dit uitleef. Die kampus bied die regte vakke aan wat ek nodig het en ek sien rêrig daarna uit om my graad hier klaar te maak.”

Want, daarna gaan daardie einste graad sy paspoort wees tot ʼn loopbaan wat hy hoop om in die buiteland af te skop.

Sy avontuur by die NWU het wel hinkepink begin. Vier weke gelede het hy sy voet gebreek en nou moet hy met ʼn moon boot oor die weg kom.

“Gelukkig ken ek al ʼn redelike hoeveelheid mense wat saam met my studeer, dus help dit baie.”

Dié stewel kom darem oor net twee weke af en dan kan hy sy liefde vir alles wat fisies is weer met oorgawe voortsit. Fiks vir die pad vorentoe.

Slaggereed, dít is wat Janco Viljoen is.

Submitted on Tue, 03/01/2022 - 11:47