James Small se groot impak

Hy het sy hart op sy mou gedra. Vreesloos. ’n Kort humeur. Emosioneel. Stoute derduiwel. Pierewaaier. Kapokhaan van formaat. Hy was berug. Joernaliste het sy manewales soos soetkoek opgeëet en dié begaafde vleuel het dit met oorgawe opgedis. James Terence Small – 47 toetse, 20 drieë. Die eerste Suid-Afrikaner wat met ʼn kaart van die veld gestuur is. Dit was 1993 en Suid-Afrika meet kragte met Australië. Boesemvriend en skrumskakel Robert du Preez word deur die Engelse skeidsregter, Ed Morrison, gestraf, en die besoekers is nie gelukkig met die besluit nie. Al wat Groen-en-Goud is blêr terug, met James die voorbok. Trekpas – koelkas toe met hom.

Twee jaar later en hy word saam met die Springbokspan wat Nieu-Seeland in die eindstryd van die 1995 Wêreldbeker klop as nasiebouers verewig.

“Hy was ʼn karakter en hy het ʼn teenwoordigheid in die span gehad. Hy het nie baie van reëls en spankodes gehou nie, maar hy kon jol en sy selfvertroue was aansteeklik,” vertel Leon Boshoff, Small se spanmaat by die Cats.

Small se vleuelmaat by die Leeus en Springbokke kom aan die beurt: “Ek was bevoorreg om saam met ʼn paar bitter talentvolle spelers te speel,” vertel Pieter Hendriks, wie se omhooggehoude gebalde vuis nadat hy in die openingswedstryd van die 1995 Wêreldbeker om David Campese gehardloop het, ʼn ikoniese beeld is.

Die laaste aangee van die beweging voordat dit in Hendriks se gretige hande beland het, het van Small gekom.

“James was maar James,” vertel Hendriks met ʼn lag. “Wat hy gesê het, het hy gedoen. Hy was nie ʼn té filosofiese ou nie – hy het vir die oomblik geleef. Hy was ʼn vurige karakter.”

Toe leer die Noordwes-Universiteit (NWU) en Potchefstroom hom ken.

Tussen 2013 en 2014 word James onder einste Robert du Preez as hulpafrigter by die NWU en die Luiperds aangestel. In sy swart baadjie, wit hemp en swart das het hy die kantlyn soos ʼn befoeterde sersant-majoor gepatrolleer. Sy passie daar vir die hele wêreld om te aanskou.

Dit is ook hier waar hy ʼn ou bondgenoot weer raakgeloop het.

“My paaie met James het by die Rooibokke onder Harry Viljoen (voormalige Springbokafrigter) gekruis. My ma en James se ma het altyd saam ons rugbywedstryde op die pawiljoen gesit en kyk. Ek dink Harry het vir James die speler gemaak wat hy sou word. Hy het hom nie in ʼn boksie gedruk nie, hy het sy flair laat leef,” sê Hendrik Truter, wat saam met vleuels Small en Pieter Hendriks later op heelagter vir die Leeus uitgedraf het. Truter het ook as ʼn bemarker vir die NWU se Rugbyinstituut gedien en was die hoof-ghoeroe agter die aanbieding van die NWU se tuis-Varsitybekerwedstryde.

“Ek kry skoon hoendervleis as ek oor daardie agterste driehoek met Pieter en James gesels. Drukkoker-situasies het die beste in James na vore laat kom. Hy sou skree: ‘Bring die bal!’. Elke Saterdag was hy 100% aangeskakel, reg om te gaan.”

Tog het hy sy heelagter se hulp soms nodig gehad om meer as net lugballe en stormram-aanvallers te trotseer.

“In sy beginjare was James bekend daarvoor dat hy niks van vlieg gehou het nie. Op vlugte het hy altyd langs my kom sit en ek dink sy vingernaels is steeds in my voorarms ingegraveer,” skerts Truter.

Mervyn Taylor, bestuurder van die Rugbyinstituut, skroom nie om Small se waarde in sy tyd by die NWU uit te wys nie: “James was een van die ouens wat ek die gouste by ons sisteme en binne ons kultuur sien aanpas het. Hy het dadelik wonderlike verhoudings met ons spelers gebou en was ongelooflik lojaal.”

Op 10 Julie 2019 het Small al sy lewe opgeleef. Hy is op die ouderdom van 50 jaar aan ʼn hartaanval oorlede. Hy sou op 10 Februarie verjaar het.

Hier laat in die 1990’s word Small aangehaal waar hy sê sy ambisie is om eendag “ʼn voetspoor en nie ʼn voetnoot nie” te wees. Het hy maar toe al geweet dat die wêreld nie vir James Small sal vergeet nie ...

En as jy hom soek, as jy naby dié eiesinnige, pretmaker self wil wees, dan kry jou jouself in Potchefstroom. En as jy in Potch is, dan soek jy Thabo Mbekistraat. Ry op in hom, noord, sê-nou-maar-dam se rigting. By Loopstraat draai jy regs. Voor jou is die Fanie du Toit-sportterrein. Nou stap jy hoofpawiljoen toe en jy stop voor dit. Kyk dit in die gesig. Aan jou regterkant is daar ʼn trog, ʼn sloot langs die kantlyn af. Jy kan dit net sien as jy jou oë toemaak. James het dit uitgeloop.

Dit is ook waar sy voetspore lê.

Submitted on Fri, 02/24/2023 - 14:44