IT-studente “skrum” met bedryfskundiges

Die belangrikheid van die bedryfsblootstelling vir universiteitstudente kan nie genoeg beklemtoon word nie. Dit gee nie alleen vir studente die geleentheid om hulle kennis in werklike situasies en op werklike probleme toe te pas nie, maar dit oorbrug ook die klaarblyklike gaping tussen akademiese teorie en tegniese toepassing.

’n Groep Inligtingstegnologie-studente (IT-studente) van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark het onlangs hulle bedryfshoede opgesit en Britehouse, ’n afdeling van Dimension Data in Bryanston, Johannesburg, besoek.

Die doel van die besoek was om die studente toe te laat om aan Britehouse se twee dae lange beplanningsessies vir produkvermeerdering (Product Increment, PI) deel te neem. Hierdie sessies word ook die “skrum van alle skrums” genoem, aangesien al Britehouse se personeellede aan die dinkskrumsessies deelneem om hulle insigte vir ’n verskeidenheid produkte te deel. Skrum verwys na ’n vinnige prosesraamwerk om komplekse kenniswerk te bestuur om sagtewareprojekte te ontwikkel en te bestuur.

As voorbereiding vir die sessies het die groep studente – wat uit drie finalejaar- voorgraadse studente en drie nagraadse studente bestaan – ’n denkbeeldige projekstudie ontvang om vir ’n skrumsessie met die bedryfskundiges voor te berei.

Volgens JT Janse van Rensburg, die dosent wat die besoek gekoördineer het, het die voorbereiding en daaropvolgende skrum nie net gesorg dat bedryfsleer plaasvind nie, maar ook portuurleer, aangesien die nagraadse studente hulle bestaande kennis met die finalejaargroep gedeel het.  Die studente moes tydens die oefening verskillende skrumrolle kies, en Cornelia Venter is as die produkeienaar en Yvonne Pitsane as die skrummeester gekies. Cornelia en Yvonne moes elke twee uur hulle vordering met die konsep tydens ’n sessie van die skrum van alle skrums met die kundiges deel.

Om die dag af te sluit, het Ilze van As, ’n Britehouse verteenwoordiger, seker gemaak dat die groep studente met al die skrumspanne kontak maak, en hulle het die geleentheid gehad om meer te leer oor Britehouse se verskillende projekte en die tegnologieë wat op produkontwikkelingsgebied gebruik word.

Volgens JT is besoeke soos hierdie van kardinale belang waar dit nie net kwaliteitsversekering ten opsigte van onderrig- en leer-uitkomste raak nie, maar ook om waarde vir voornemende werkgewers by te voeg. 

“Ons studente moet bewus wees van die behoeftes in die bedryf en hulle vaardigheidsvlakke moet van innovering en kritiese denkvaardighede spreek,” sê JT, terwyl sy die belangrikheid van die bedryfservaring as ’n toegang tot indiensneming beklemtoon.

“Sonder ervaring – of bedryfskollateraal – sal talle gegradueerdes dit moeilik vind om werk te kry, of eers bykomende opleiding moet kry voordat hulle in diens geneem kan word.”  

Van links na regs is Lungelo Masondo, JT Janse van Rensburg, Bontle Moloi, Hlatsi Moloto, Yvonne Pitsane, Vanessa Rufo en Cornelia Venter.

Die studente is hard aan die werk aan hulle ontwikkelingsplan.

Die studente leer meer oor die skrumproses deur te kyk hoe die Britehouse-personeel aan ’n projekontwikkelingsplan werk.

Submitted on Thu, 03/19/2020 - 14:53