Intydse monitering in beroepshigiëne

Die Beroepshigiëne en Gesondheidsnavorsingsinisiatief (OHHRI) by die Fakulteit Gesondheidswetenskappe aan die Noordwes-Universiteit (NWU) het op 29 en 30 November 2023 ’n werkswinkel aangebied om kennis en beste praktyke met betrekking tot die gebruik van direktelees-metodologieë en -sensors in beroepshigiëne te deel. Die geleentheid met die tema “The changing landscape of occupational hygiene: Challenges and opportunities presented by real-time exposure data” het 50 professionele persone, insluitende internasionale verteenwoordigers, regeringsliggame, universiteite en bedryfskundiges, byeengebring.

Deur op direktelees-metodologieë te fokus, het die werkswinkel die geleenthede en uitdagings ondersoek wat deur intydse blootstellingsdata verteenwoordig word om vir risikobeoordeling, monitering en, hopelik in die toekoms, nakoming van wetlike standaarde gebruik te word. Een van die vernaamste dinge wat geleer is, is die kritieke rol wat intydse monitering kan speel in die vasstelling van blootstelling aan verskillende stressors in die werkplek, aangesien dit data vinniger as konvensionele metodes – en in baie gevalle onmiddellik – kan verskaf.

Hoewel blootstelling aan verskillende stressors in die werkplek aan van wetgewing moet voldoen, het die wye verskeidenheid datastelle wat deur intydse monitering gegenereer is as ’n kragtige instrument vir omvattende risikobeoordeling na vore gekom. Hierdie datastelle kan ’n bydrae lewer tot die intydse blootstellingsevaluering om beter beskerming van werkers se gesondheid moontlik te maak. Een betekenisvolle uitkoms van die werkswinkel was die ontstaan van ’n werksgroep om die praktiese implementering van intydse moniteringsmetodes in die bedryf – insluitende hervorming van wetgewing – te ondersoek. Hierdie inisiatief beklemtoon die belangrikheid van kommunikasie en samewerking tussen navorsers en belanghebbers in die bedryf om hierdie gebied te bevorder.

Wat belangrik is, is dat die werkswinkel het ’n bewustheid gebring oor die dringende behoefte aan beroepshigiëniste in Suid-Afrika. Dit het die belangrikheid beklemtoon van die verskaffing van opleiding oor intydse moniteringsmetodes vir beide studente en bedryfskundiges. Aangesien intydse moniteringsmetodes nog nie in wetgewende beleide opgeneem is nie, het die werkswinkel die dringendheid beklemtoon vir opleiding van die volgende geslag vakkundiges in hierdie innoverende benaderings.

Die werkswinkel het ook gedien as platform om die NWU se leierskap in beroepshigiëne-opleiding en -navorsing te vertoon. ’n Toer deur die gerief op die Potchefstroomkampus het aan belanghebbers insig gegee in die moderne toerusting en geriewe wat vir onderrig- en navorsingsmetodologieë gebruik word. Die NWU is die enigste universiteit in Suid-Afrika wat ’n meestersgraad in Gesondheidswetenskappe (MHSc) in Beroepshigiëne, saam met ’n vierjaar- baccalaureusgraad in Gesondheid, aanbied. Dit getuig van die universiteit se verbintenis tot die bevordering van hierdie gebied en die kweking van toekomstige leiers.

Om af te sluit, intydse monitering is besig om as die toekomstige voorpos in werkplekgesondheid en -veiligheid te ontwikkel. Hoewel die metodes nog nie in wetgewing opgeneem is nie, speel hulle ’n noodsaaklike rol in intydse blootstellingsevaluering en kan uiteindelik tot ’n beter beskerming van werkers se gesondheid bydra.

Oor die algemeen was dit ’n geslaagde werkswinkel met onderhoudende besprekings, samewerkende inisiatiewe en ’n gedeelde visie vir die toekoms van beroepshigiëne. Die NWU se Fakulteit Gesondheidswetenskappe sal deur die OHHRI en die vakgroep Beroepshigiëne (Skool vir Fisiologie, Voeding en Verbruikerswetenskap) voortgaan om innovering en uitnemendheid in gesondheid en veiligheid in die werkplek te bevorder. Namate die bedryf ook voortgaan om intydse monitering te omarm, sal ons daarna streef om op die voorpunt te bly, en die volgende geslag beroepshigiëniste te vorm en tot ’n veiliger en gesonder werksomgewing vir almal by te dra.

....

Professionele persone, insluitende internasionale verteenwoordigers, regeringsliggame, universiteite en bedryfskundiges het die werkswinkel bygewoon.

Submitted on Mon, 12/11/2023 - 07:15