Internasionale navorsers werk saam om werkloosheid te verstaan

“Geen werk. Geen kos. Help asb.” Hierdie woorde op saamgeflansde kartonkennisgewings kan op enige gegewe dag op elke straathoek in Suid-Afrika gesien word. Met ’n werkloosheidskoers van 26,7% in die eerste kwartaal van 2018 is dit geen verrassing dat Suid-Afrika een van die 20 lande met die hoogste werkloosheidsyfers ter wêreld is nie.

En tog is daar hoop. Die Optentia-navorsingsfokusarea op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark het met die Katholieke Universiteit Leuven (KU Leuven) in België saamgewerk om hierdie probleem te verstaan en maniere te kry om tussenbeide te tree.

Geborg deur die Vlaamse interuniversiteitsraad, het die projek die afgelope vyf jaar die ervarings van werkloses in die townships van Suid-Afrika ondersoek. Die oorhoofse doelwit van die projek was om kennis oor die gebied te bevorder en ’n bewysgebaseerde tussenkoms te ontwikkel en evalueer om werklose persone se las te verlig en hulle aanpassingsoriëntasie teenoor die arbeidsmark te verbeter deur hulle welsyn te bevorder.

Dit was die missie van drie PhD-studente: Leoni van der Vaart (wat verskillende psigologiese tipes werkloses en hulle motivering bestudeer het), Melinda du Toit (wat gemeenskaps- en entrepreneursperspektiewe oor die saak wou bepaal), en Rachele Paver (wie se rol was om huidige tussenkomste te evalueer en ’n volhoubare tussenkoms te ontwikkel en evalueer).  

Elkeen sou dan ’n gesamentlike PhD-graad van die NWU en KU Leuven ontvang. Leoni van der Vaart het onlangs haar gesamentlike PhD ontvang, terwyl Melinda du Toit haar tesis vir eksaminering ingehandig het.

Navorsing in die gemeenskap

Die navorsing het die driemanskap na die stowwerige strate van Orange Farm, ’n township suid van Johannesburg, geneem. Toegang tot die gemeenskap is verkry met die hulp van mnr Bricks Mokolo, ’n bekende figuur in die gemeenskap, wat Melinda gehelp het om navorsingsassistente uit die gemeenskap te identifiseer. Namate die navorsing gevorder het, is deurlopende terugvoer van die gemeenskap ontvang en aan hulle gegee deur die werkloosheidsnavorsingsadviesraad, wat uit gemeenskapsleiers, lede en entrepreneurs bestaan het.  

Rachele se soeke na ’n tussenkoms het tot haar ontmoeting met prof Roland Blonk van die Tilberg Universiteit in Nederland gelei, en het die wiele vir die Qhubekela Phambili-tussenkomsprogram (QP- tussenkomsprogram) aan die rol gesit.

Die naam kom van die Zulu-frase wat “beweeg vorentoe” beteken, en die projek is daarop gemik om werksoekers voor te berei om die arbeidsmark te betree.

Projek moedig ander aan

Die projek behels ook die aanmoediging van ander akademici om navorsing oor werkloosheid te doen. Dit is die doelwit van ’n simposium met die tema “Dealing with Unemployment in South Africa: Research and Intervention”, wat vir 13 en 14 September 2018 beplan word.

“Internasionale wetenskaplike samewerking aan hierdie navorsingsprojek het die vermoëns van navorsers, studente, sakelui, regeringsamptenare en gemeenskappe ontwikkel,” sê prof Ian Rothmann, direkteur van Optentia. “Hulle kan nou die kwessie ondersoek en bespreek en hulle ervarings deel. Sulke samewerking is noodsaaklik vir akademiese en wetenskaplike prestasie. Daar word verder ook gesê dat wat goed is vir die student, is goed vir die universiteit. Dit is tydens die werkloosheidsprojek bewys.”

Die drie PhD-studente is Melinda du Toit, Leoni van der Vaart en Rachele Paver. Saam met hulle is Prof Roland Blonk van die Tilberg Universiteit en Prof Ian Rothmann, direkteur van die Optentia-navorsingsfokusarea.

#NWUVroue

Submitted on Thu, 07/19/2018 - 16:25