Internasionale Museumdag: NWU Museum bring hulde aan die geskiedenis met ’n interaktiewe uitstalling

Deur Sandile Mahlangu

Die Noordwes-Universiteit (NWU) Museum het op 18 Mei Internasionale Museumdag op die Potchefstroomkampus gevier.

Hierdie dag word elke jaar regoor die wêreld gevier en die museum het besluit om dinge ’n bietjie anders aan te pak. Om sy ryk geskiedenis te vier, het hulle ’n uitstalling op die grondvlak van die museum aangebring en geskiedkundige koshuise, akademiese verenigings en studentestrukture vertoon, asook instrumente soos tikmasjiene wat in die 20ste eeu gebruik is, en het verskillende NWU-gelukbringers en verskillende togas vir gradeplegtighede uitgestal. Die uitstalling is met die geskiedenis van die omgewing vanaf 1895 tot 2003 geïntegreer, en het die lessenaar, stoel en tikmasjien van Ferdinand Postma, ’n voormalige rektor van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, ingesluit. Daar is ook op die voormalige leier van die Bantoestan van Bophuthatswana, wyle Kgosi Lucas Mangope, gefokus.

Die senior rekordsbeampte van die NWU Museum, Eric Swanepoel, het genoem dat dit belangrik is vir die Universiteit om sy geskiedenis te bewaar en dit as ’n maatstaf vir sy transformasie te gebruik.

“Ons het deur die jare vanaf ’n oorwegende Afrikaanse instelling wat uit die tyd van die Transvaal dateer, tot by die inklusiewe en steeds transformerende instelling van vandag gevorder. Ons sou nie geweet het waarheen ons op pad is as ons nie geweet het waar ons vandaan kom nie. Die NWU Museum help om studente te leer waar hulle vandaan kom, wat die grondslag van die instelling is, en waarom sekere dinge in die verlede op ’n sekere manier gedoen is,” het hy gesê.

Met koffie en tee wat by die ingang na die museum bedien is, is die studente aangemoedig om van die items te besigtig wat by die uitstalling ingesluit is, soos die verskillende togas vir gradeplegtighede, tikmasjiene, en die formele drag van die studenteverteenwoordigers van daardie tyd. Hulle is ook aangemoedig om foto’s te neem waar hulle die togas aan het.

“Ons het onlangs besluit dat dit belangrik is vir studente om die kledingstukke te ervaar deur dit aan te trek, aangesien dit iets is wat ander museums nie doen nie,” het Swanepoel bygevoeg.

Een van die studente wat die viering bygewoon het, Tlhalefo Mpotsoe, het gesê dat sy die uitstalling geniet het en dat sy dink dat dit ’n wonderlike leerervaring vir studente sal wees om die museum tussen klasse te besoek.

“Ek het die ervaring geniet en met dié dat Swanepoel ons deur die museum geneem het, is dit vir ons maklik gemaak om die konteks te verstaan van die items wat uitgestal is. Die museum is ’n wonderlike ervaring om die tyd tussen klasse te verwyl terwyl jy iets oor jou instelling leer,” sê Mpotsoe.

Swanepoel het ten slotte genoem dat hy wens dat studente die museum dikwels kom besoek om oor die geskiedenis van die Universiteit te leer en dit te verstaan, aangesien daar gewoonlik verskillende uitstallings is. Die museum is vir opknapping geskeduleer, en hulle hoop om ná die opknapping meer ruimte te hê om meer items uit te stal.

“Daar is baie items wat ons nie by die uitstalling ingesluit het nie, en ek glo dat hoe meer studente die museum besoek, hoe meer geleenthede hulle sal kry om iets oor ons instelling te sien en daarvan te leer. Dit sal studente help verstaan dat ons die hele tyd dinge ten goede verander,” het hy afgesluit.

 

....

Eric Swanepoel praat met studente oor Ferdinand Postma se kantoormeubels.

 

Submitted on Thu, 05/25/2023 - 10:34