Internasionaal befaamde farmaseutiese sakeleier ontvang eredoktorsgraad

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het op Vrydag 2 Augustus ’n eredoktorsgraad aan die internasionaal befaamde farmaseutiese sakeleier en NWU-almunus Jannie Oosthuizen toegeken.

Mnr Oosthuizen het erkenning ontvang vir sy buitengewone bydraes tot en betekenisvolle posisie in die internasionale gesondheidsektor, waar hy as ’n sleutelrolspeler beskou word.

“Dit is 'n ongelooflike eer wat die NWU en sy Raad aan my betoon het. Die werk wat ek die afgelope drie dekades gedoen het en die geleentheid wat ek gehad het om 'n verskil in die lewens van gemeenskappe en pasiënte regoor die wêreld te maak, is werklik in hierdie erkenning saamgevat. Ek is die universiteit ewig dankbaar,” sê hy.

Hy is bekend vir sy insig in en kennis van die farmaseutiese bedryf en word dikwels in die media aangehaal. Hy word ook genooi om as kundige spreker op panele te dien. Sy kundigheid omspan die farmaseutiese produkpyplyn en teikens, gesondheidsekonomie, waardebewyse en ondersteuning, en innoverende beloningstelsels. Hy is ook sterk daartoe verbind om die omgewing te bewaar.

Mnr Oosthuizen was aan die voorpunt van verskeie inisiatiewe om jong navorsers te ondersteun en hulle te motiveer om die onbeperkte moontlikhede van organiese chemie te ontdek.

Op die hoogtepunt van ’n buitengewone loopbaan

Sy loopbaan in die bedryf omspan drie dekades van uitnemendheid by verskeie farmaseutiese maatskappye. Mnr Oosthuizen was sedert 2022 die president van MSD Human Health in die Verenigde State, die grootste wêreldwye besigheid van MSD, ’n toonaangewende navorsingsintensiewe biofarmaseutiese maatskappy. Hy verteenwoordig ook wêreldwye menslike gesondheid op die MSD se uitvoerende span as uitvoerende beampte van die maatskappy.

Mnr Oosthuizen het ’n groot invloed vanuit ’n bestuurs- en beleidsperspektief, en bestee baie tyd by regerings aan prys- en vergoedingsbeleid om omgewings te verseker wat innovasie ondersteun en beloon.

Sy visionêre leierskap was instrumenteel in die suksesvolle bekendstelling van Keytruda®, ’n immunoterapie vir kanker en MSD se topverkoperproduk (wat in 2023 $25 miljard aan inkomste gegenereer het en tot op hede meer as tweemiljoen mense wêreldwyd bereik het).

Van hier tot wêreldwye erkenning

Mnr Oosthuizen, 'n voormalige inwoner van Hombré manskoshuis, het in 1991 met ’n BPharm-graad aan die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys gegradueer.

Hy het aanvanklik in 1993 as verkoopsverteenwoordiger by die farmaseutiese maatskappy Eli Lilly aangesluit.

Hy het vroeg in sy loopbaan die waarde van gemeenskapsbetrokkenheid raakgesien en was deel van ’n span wat ’n vennootskap met You Are Not Alone (YANA) in Pretoria gevorm het om halfweghuise vir mense met skisofrenie te vestig.

Op grond van sy werksetiek, toewyding en die vermoë om met mense te werk, is sy rol in 1998 uitgebrei tot dié van wêreldwye bemarkingsassosiaat by Lilly se korporatiewe hoofkantoor in Indianapolis in die Verenigde State. Hy is in 2012 as visepresident en streekspresident vir die Lilly Asia Operations aangestel.

In hierdie posisie het hy sterk op diversiteit en inklusiwiteit, bevordering van organisasiekultuur en die maksimalisering van die menslike faktor in sy spanne gefokus.

Sy impak in Suid-Korea was so groot dat sy veldtog daar om die werkplek te moderniseer in die Joong-Ang Daily, susterskoerant van die New York Times, gedek is as ’n voorbeeld van uitstekende leierskap en ’n verandering in organisasiekultuur. Hy het daarin geslaag om organisasiebeleid te verander om toe te laat dat pare van dieselfde geslag dieselfde voordele as heteroseksuele pare ontvang, en daarmee die maatskappy se reputasie uit te bou as inklusiewe werkgewer wat wonderlike talent lok.

Meer oor MSD

MSD gebruik baanbrekerwetenskap om die lewens van mense regoor die wêreld te red en te verbeter. Die maatskappy is aan die voorpunt van navorsing om innoverende gesondheidsoplossings te lewer wat die voorkoming en behandeling van siektes by mense en diere bevorder.  MSD staan in die Verenigde State en Kanada as Merck bekend.

Die maatskappy het ongeveer 70 000 personeellede in meer as 100 lande in diens. MSD het verskeie entstowwe, immunoterapieë, en MIV- en kankermedikasie ontwikkel.

Toegerus vir ʼn impakvolle loopbaan

Mnr Oosthuizen het goeie raad vir voornemende farmaseutiese studente. "Wanneer jy by die NWU studeer, gaan jy beslis opleiding kry, maar jy gaan ook perspektief kry. Om ʼn student te wees wat die universiteit met ʼn kwalifikasie verlaat, is een ding, maar om ʼn landsburger te wees wat nie net in hierdie land nie, maar ook in die wêreld ʼn impak maak, is iets heeltemal anders. Maar ek glo hierdie universiteit sal julle toerus vir daardie reis. Dit het my beslis toegerus. Dit is wat ons nodig het, mense wat in die wêreld uitgaan om 'n verskil te maak en by te dra tot die samelewing en die missie te vervul wat jy nog gedurende jou jare by die universiteit gaan skep."

Klik hier om na die gradeplegtigheid te kyk.

Mnr Jannie Oosthuizen ontvang sy eredoktorsgraad tydens die gradeplegtigheid op 2 Augustus. Prof Michael Temane, adjunkregistrateur hang die band om terwyl Prof Bismark Tyobeka, hoof en visekanselier toekyk.

Mnr Jannie Oosthuizen en sy vrou, Ilze.

Submitted on Fri, 08/02/2024 - 12:55