Innoverende oplossings aan die orde van die dag by die SCSIS se projekvoorleggingsdag vir honneursgraadstudente

Die Skool vir Rekenaarwetenskap en Inligtingstelsels (SCSIS) op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit het op 10 Oktober 2024 sy jaarlikse projekvoorleggingsdag vir honneursgraadstudente by die The Roots-venue in Potchefstroom gehou. Die geleentheid het die innoverende projekte en navorsing vertoon wat deur die skool se 32 honneursgraadstudente uitgevoer is, en vir hulle ’n platform verskaf om hulle navorsingsbevindings en groepprojekte voor te lê.

Al die studente het individuele aanbiedings oor hulle honneursgraad-navorsingsprojekte gedoen en hulle bemeestering van verskillende tegniese onderwerpe en navorsingsmetodologieë gedemonstreer. Groepaanbiedings het gevolg en gesamentlike projekte is vertoon waaraan studente as deel van hulle kursuswerk in die Inligtingstelselingenieurswese-module gewerk het.

Die geleentheid is goed bygewoon, met 15 verteenwoordigers van ses eksterne maatskappye, insluitende Taskflow, Andile, Aquatico, Singular Systems, BBD, en Gendac. Daar was ook kollegas van NWU Tegnologie-oordrag en NWU Enterprises wat goeie bedryfsbelangstelling en betrokkenheid by navorsings- en ontwikkelingsinisiatiewe by die NWU vertoon.

Personeel van die SCSIS het die studente se aanbiedings geëvalueer, en elke student se vermoë beoordeel om hulle navorsing en die impak van hulle bevindings te verduidelik. Bedryfsverteenwoordigers het ook die geleentheid gehad om tydens die middag se interaktiewe demonstrasie en V&A-sessie met die studente te gesels. Hulle het terugvoer verskaf en potensiële samewerkings ondersoek.

Prof Estelle Taylor, direkteur van die SCIS, het die studente se pogings geloof, en gesê: “Die studente het uitmuntende werk verrig en ons geweldig trots gemaak. Ons het positiewe terugvoer van die verteenwoordigers uit die bedryf ontvang.”

Dr Annette van der Merwe, vakgroepvoorsitter vir Rekenaarwetenskap en Inligtingstelsels op die NWU se Potchefstroomkampus, het hierdie positiewe terugvoer beaam: “Ons het baie positiewe kommentaar van ons gaste uit die bedryf ontvang. Hulle het dit almal vreeslik geniet en gevra om weer in die toekoms uitgenooi te word. Talle maatskappye het ook genoem dat hulle graag ook regdeur die jaar betrokke wil wees.” Sy het bygevoeg: “Dit was ’n uitstekende geleentheid vir die studente om met professionele persone in die bedryf te gesels. Daar was ’n paar opmerkings dat hulle baie maklik studente van die NWU in diens sal neem, aangesien hulle karakter en gevoel vir verantwoordelikheid beter is as wat hulle by ander instellings ervaar het.”

Terugvoer vanaf die bedryfsverteenwoordigers het ook melding gemaak van Herman le Roux, wat as die seremoniemeester opgetree het. Herman, ’n MSc-student by die SCSIS wat onlangs sy verhandeling ingedien het en in Oktober sy graad sal ontvang, is as ’n buitengewone gasheer geloof. Een verteenwoordiger het opgemerk: “Julle seremoniemeester was uitstekend en dit was ’n wonderlike geleentheid vir hom om uit te blink – dra asseblief ons komplimente aan hom oor.”

Nog terugvoer van die bedryfsverteenwoordigers het die diversiteit van die studente se projekte beklemtoon, met een verteenwoordiger wat gesê het: “Die diversiteit van die onderwerpe van hierdie jaar se projekte was ongeëwenaard, wat die aanbiedings soveel interessanter gemaak het. Die aantal projekte wat ’n fisiese voorwerp of produk daargestel het, was ook meer, wat ons baie waardeer. Dit het gevolglik gelyk of die studente meer moeite met hulle projekte gedoen het.”

Die algehele terugvoer was oorweldigend positief, met bedryfsverteenwoordigers wat die professionalisme en organisasie van die geleentheid geloof het, asook die onderhoudende atmosfeer wat deur studente sowel as personeel geskep is.

Ryno Erdmann van Aquatico het die toekennings vir die beste aanbiedings geborg, en het erkenning aan die toppresterende studente vir hulle buitengewone werk gegee. Die drie wenners was Francois Meiring, wat die eerste prys huis toe geneem het, gevolg deur Gian van Zijl en Janco Weyers. Die prysoorhandigingseremonie is in ’n gedenkfoto vasgevang, met Paul Naude van Aquatico, Gian, Janco, Francois, en Ryno Erdmann.

Die geleentheid het met ’n slotboodskap afgesluit en diegene wat dit bygewoon het, geïnspireerd gelaat deur die kreatiwiteit, toewyding en tegniese vaardigheid wat die NWU se honneursgraadstudente gedemonstreer het. Die projekvoorleggingsdag vir honneursgraadstudente het weer eens die verbintenis beklemtoon van die SCIS om ’n kultuur van innovasie en uitmuntendheid op die gebied van tegnologie en inligtingstelsels te skep.

1

 

2

 

3

 

4

 

2

 

3

 

3

 

4

 

Submitted on Tue, 10/22/2024 - 15:08