Innoveerders neem aan die Britse Raad (British Council) se kommersialisasieprogram deel

Die Britse Raad in Suid-Afrika het twee innoveerders van die Noordwes-Universiteit (NWU) gekies om aan sy intreeprogram oor die versterking van vaardighede in kommersialisasie – Strengthening Commercialisation Skills (SCS) – deel te neem. Hierdie program is op die gebiede van die geesteswetenskappe, kunste en die sosiale wetenskappe (HASS) gerig.

Dr Mesuli Mbanjwa, ’n kommersialisasiebestuurder by die NWU se Tegnologie-oordrag en Innovasie-ondersteuningskantoor (TTIS-kantoor), en prof Henk Louw, ’n medeprofessor van Akademiese Geletterdheid by die Fakulteit Opvoedkunde, is vir die program gekies wat op 29 November 2022 afgeskop het.

Die SCS-program bestaan uit vyf fases, insluitende ’n eenweek-inwoonprogram by die Oxford Universiteit, wat geskeduleer is om in Februarie 2023 plaas te vind. Dit behels ook opleiding, mentorskap en werkswinkels en geleenthede oor vertonings en disseminasie.

Prof Louw het ’n opvoedkundige sagtewareprogram genaamd Backchat ontwikkel. Dit is ’n innovasie wat opvoeders soos onderwysers en akademici help om verpersoonlikte en doeltreffende terugvoer oor leerders se prestasie aan hulle te verskaf. Die innovasie verbeter die gehalte van leer geweldig baie. Die TTIS-kantoor ondersteun prof Louw hiermee. Dit sluit advies in oor die beskerming van intellektuele eiendom, die ontwikkeling van besigheidsmodelle, markevaluerings en die toetsing van markte en ander dienste wat ten doel het om Backchat ’n kommersieel lewensvatbare produk te maak. Prof Louw sê hy is oortuig dat sy deelname aan die program sy kommersialisasie- en entrepreneurskapsvaardighede sal bevorder, wat hom beter sal toerus om sy innovasie te kan bemark.

Dr Mbanjwa sê innovasies wat gewoonlik vanaf universiteite gekommersialiseer word, spruit meestal uit navorsing en ontwikkeling op die gebiede van die wetenskap, tegnologie, ingenieurswese, wiskunde en medisyne (STEMM). Die doel van hierdie program is om die kommersialisasie van navorsingsuitsette uit die HASS-gebiede te vergroot omdat hulle dikwels op sosiale verbetering gerig is. Hy beklemtoon dat kommersialisasie in die universiteitskonteks verder strek as om bloot geld te maak, en eerder daaroor gaan om die navorsing om te skakel in dienste en produkte wat vir die samelewing tot voordeel kan wees. “Dit is die volgende vlak van navorsingsimpak,” sê hy.

Die TTIS-kantoor sal deur die program aangespoor word om meer NWU-akademici en -navorsers op die HASS-gebiede, soos prof Louw, te help om meer van hulle navorsingsuitsette te kommersialiseer,” sê dr Mbanjwa. Hy moedig sy NWU-kollegas in die HASS-fakulteite by die NWU aan om geleenthede vir die kommersialisasie van hulle navorsingswerk proaktief te oorweeg en om die TTIS-kantoor vir raad en hulp te nader.

“Ons benoeming van die Backchat-projek en van prof Louw vir die SCS-program is ’n voorbeeld van die tipe ondersteuning wat die TTIS-kantoor aan die NWU se innoveerders verskaf. Ons hoop dat Backchat deur die program blootstelling aan die potensiële mark- en innovasie-ekostelsel in die VK sal ontvang,” voeg hy by.

Meer oor die SCS-program

Volgens die Britse Raad bou die program op die karteringsverslag van die Suid-Afrikaanse innovasie-ekostelsel (South Africa Innovation Ecosystem mapping report) wat in 2021 in opdrag van

Universiteite Suid-Afrika se program vir Entrepreneurskapskapsontwikkeling in Hoër Onderwys begin is.

Die verslag het bevind dat die Suid-Afrikaanse innovasie-ekostelsel ’n snelveranderende landskap is met insette van uitnemendheid en goeie praktyk, en ’n geweldige potensiaal toon ten opsigte van ekonomiese groei deur kommersialisasie-aktiwiteite wat navorsing deur universiteite betrek.

Die Britse Raad sê die verslag demonstreer ook dat daar ’n duidelike behoefte is om ’n bewustheid te kweek en dat die kommersialisasie van HASS-navorsingsuitsette wyer oor Suid-Afrikaanse universiteite moet uitbrei. Dit sluit in dat mense van die impak van tradisionele kennis bewus gemaak moet word.

Die program word deur die Britse Raad gelewer in vennootskap met Oxford se Global Innovation Consultancy (Oxentia), wat in Oxford, Verenigde Koninkryk geleë is.

Die langtermyndoelwitte sluit in dat akademici en kundiges in tegnologie-oordrag verdere opleiding in die kommersialisasie van HASS-navorsingsuitsette moet ontvang.

Dit sal ook ’n bewustheid kweek oor die verskillende moontlike maniere om ’n impak van hierdie vakgebiede te genereer en die kommersialisasie van navorsingsuitsette in die sektor te verhoog.

Volgens die Britse Raad sal dit nuwe geleenthede vir samewerking in HASS-kommersialisasie tussen die Verenigde Koninkryk en Suid-Afrikaanse universiteite ontsluit.

...

Dr Mesuli Mbanjwa

....

Prof Henk Louw

Submitted on Tue, 12/06/2022 - 11:33