Innoveerders geïnspireer om dié navorsing ook te kommersialiseer

Ná ’n week lange residensiële program in die Verenigde Koninkryk het twee innoveerders van die Noordwes-Universiteit (NWU) onlangs met nuwe energie teruggekeer om kommersialisasie op die gebied van die geesteswetenskappe, die kunste en sosiale wetenskappe (HASS) te bevorder.

Prof Henk Louw, ’n medeprofessor in Akademiese Geletterdheid in die Fakulteit Geesteswetenskappe, en dr Mesuli Mbanjwa, ’n kommersialisasiebestuurder by die NWU se Tegnologie-oordrag en Innovasie-kantoor (TTIS), het van 13 tot 17 Februarie die residensiële program in Oxford bygewoon.   Die programaktiwiteite het deelname aan werkswinkels, die demonstrasie van innovasie, en netwerking ingesluit.  Dit het saamgegaan met besoeke aan verskeie innovasie- en entrepreneurskapsentrums by Oxentia, die Universiteit van Oxford, die Universiteit van Cambridge en die Londense Skool vir Ekonomie en Politieke Wetenskap.

Die residensiële program is deel van die eerste aanbieding van die program vir die versterking van kommersialisasievaardighede (Commercialisation Skills (SCS) programme) van die Britse Raad in Suid-Afrika waarvoor prof Louw en dr Mbanjwa in November verlede jaar gekies is.

Die SCS-program bestaan uit vyf fases. Dit behels opleiding, mentorskap, demonstrasie- en disseminasie-werkswinkels, en netwerkgeleenthede.

Geleenthede vir kommersialisasie op die HASS-gebiede

Prof Louw het ’n opvoedkundige sagtewareprogram genaamd Backchat ontwikkel. Dit is ’n innovasie wat opvoeders soos onderwysers en akademici in staat stel om verpersoonlikte en doeltreffende prestasieterugvoer aan hulle leerders te verskaf.

Volgens hom was die residensiële program ’n wonderlike leergeleentheid. “Sommige Suid-Afrikaanse universiteite dink eerstens aan geldmaak wanneer dit by kommersialisasie kom, maar dit moet liewer daaroor gaan om navorsing tot voordeel van die samelewing aan te wend.  Een ding wat ek geleer het, is dat selfs as ’n innovasie nie noodwendig ’n winsvoordeel het nie, dit steeds voordele in die samelewing kan hê, wat ook as ‘wins’ beskou kan word.” 

Hy sê hoewel befondsing ’n probleem is, dit nie die grootste uitdaging is nie. “Ons het in Suid-Afrika ’n verandering van ingesteldheid nodig vir diegene wat by die geesteswetenskappe, kunste en sosiale wetenskappe betrokke is.  Ons moet meer van hierdie mense inspireer sodat hulle kan besef dat kommersialisasie ’n opsie is en dat dit ’n diens aan die geesteswetenskappe, die land en die publiek is.”

Prof Louw glo dat navorsing dikwels net ter wille van navorsing gedoen word, met die vernaamste doel om gepubliseer te word. “Navorsers moet weet dat daar meer geleenthede as hierdie is en dat hulle navorsing as gevolg van kommersialisasie ’n positiewe langtermyn-impak kan hê. My voorneme is om ’n paar gesprekke met mense in die bestuur van my afdeling te hê, en om te help om ’n aantal projekte vir hierdie doel te identifiseer.”

Verandering in ingesteldheid

Dr Mbanjwa stem saam dat daar by alle rolspelers – insluitende navorsers en ondersteuningsliggame vir innovasie – ’n verandering in ingesteldheid moet wees. “Innovasies wat gewoonlik vanuit universiteite gekommersialiseer word, kom gewoonlik uit navorsing en ontwikkeling op die gebied van die wetenskappe, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde (STEM-gebiede). Die doel van hierdie program is om die kommersialisasie te versterk van navorsingsuitsette op die HASS-gebiede, wat dikwels op maatskaplike voordele gerig is.”

Hy sê daar moet ’n begrip wees dat om die impak te verbreed van oplossings en innovasies wat op ’n selfonderhoudende wyse vir maatskaplike voordeel geskep word, dit nodig kan wees om ’n kommersiële transaksie te onderneem of om ’n onderneming te skep wat ’n inkomste kan inbring.  Dit is die konteks van kommersialisasie op die HASS-gebiede.
Volgens hom is die eerste stap om struikelblokke te verwyder, en om doeltreffende taal te gebruik om diegene op die HASS-gebiede te bereik – die taal en terminologie wat gewoonlik in innovasie en kommersialisasie gebruik word, is sodanig dat talle HASS-navorsers nie daarby aansluiting vind nie, of bloot nie belangstel nie.

“Ons moet aan hulle die regte ondersteuning gee en kommersialisasiegeleenthede aantreklik maak. Dit kan deur missiegedrewe inisiatiewe of maatskaplike ondernemings gedoen word in ’n taal wat vir hulle aanloklik is.”

Hy sê wat kommersialisasie betref, is daar ’n menigte geleenthede vir samewerking tussen STEM- en HASS-kundiges. “Daar vind nie genoeg samewerking plaas nie. Dit is deur multidissiplinêre samewerkings oor navorsingsprojekte wat op maatskaplike probleme fokus dat meer impak op die HASS-gebiede versnel kan word.”

Volgens dr Mbanjwa is ’n ander goeie beginpunt om innovasie op die HASS-gebiede by die NWU te bevorder om die innovasies wat die universiteit reeds op hierdie gebiede ondersteun, bekend te maak. Hy sê dit kan ’n inspirasie vir ander navorsers en innoveerders wees om die kommersialisasiepad te loop.

Die TTIS-kantoor staan gereed om HASS-navorsers van die NWU by te staan

Die TTIS-kantoor het reeds groter pogings aangewend om te verseker dat sy interne prosesse toepaslik en doeltreffend is om innovasies van regoor al die NWU-fakulteite te ondersteun. “Dit beteken dat die kriteria wat ons gebruik om nuwe projekte te evalueer en noulettendheid- en sorgsaamheidprosesse af te handel, in ag neem dat nie alle oplossings tegnologie- of wetenskapgedrewe is nie. Ons wil ook hê dat ons kliënte verstaan dat daar verskillende vorms van intellektuele eiendom buiten patente is,” verduidelik dr Mbanjwa.

Personeel en navorsers op die HASS-gebiede wat belangstel om meer oor kommersialisasie uit te vind of om die impak van hulle navorsingsuitsette by te werk, kan vir dr Mbanjwa by mesuli.mbanjwa@nwu.ac.za, of enige ander lid van die TTIS-kantoor skakel.

Prof Louw wil ook graag met enigeen skakel wat belangstel om van sy ervaring as ’n akademikus in die geesteswetenskappe met en perspektief op kommersialisasie te hoor. Prof Louw kan per e-pos by henk.louw@nwu.ac.za. bereik word.

Om meer oor die SCS-program te wete te kom, besoek: Innovators participate in British Council’s commercialisation programme | news.nwu.ac.za.

 

Dr Mesuli Mbanjwa en prof Henk Louw (albei agter) saam met Suid-Afrikaanse afgevaardigdes buite die Londense Skool vir Ekonomie en Politieke Wetenskap.

Prof Henk Louw en dr Mesuli Mbanjwa tydens die residensiële program in die Verenigde Koninkryk. Video's verskaf deur Oxtentia Ltd, Oxford en die Britse Raad in Suid-Afrika.

Prof Henk Louw

 

Dr Mesuli Mbanjwa


 

Submitted on Wed, 04/26/2023 - 12:45