Inheemse voedsels het onbenutte potensiaal vir voedselsekerheid

Ten spyte daarvan dat inheemse voedsels ryk aan voedingstowwe en droogtebestand is, word hulle dikwels misken in strategieë vir voedselsekerheid. Modjadji Mandy Rasehlomi, ʼn student by die Noordwes-Universiteit (NWU), wil dit verander.

Modjadji, ’n meestersgraadstudent in Inheemse Kennisstelsels, het na die onbenutte potensiaal van inheemse voedsels gaan kyk ten einde aan die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (SDG’s) van Geen Armoede (SDG 1) en Geen Honger (SDG 2) te voldoen.

Haar navorsing het die lig gewerp op die gebrek aan ondersoek na die gebruik van inheemse voedselsoorte, ’n noodsaaklike hulpbron wat dikwels misgekyk word in strategieë wat hoofsaaklik deur Westerse paradigmas beïnvloed word.

Modjadji sê die wêreldwye verslag oor voeding, die Global Nutrition Report, wat die wêreld se voorste onafhanklike evaluering is van die toestand van voeding wêreldwyd, beklemtoon die toenemende belangrikheid van voeding te midde van die uitdagings wat deur wêreldwye voedselstelsels ervaar word, insluitende armoede en honger.

Haar eie navorsing identifiseer inheemse voedselsoorte as ryk aan voedingstowwe en veerkragtig in uitdagende omgewingstoestande, en maak hulle waardevol vir die bevordering van volhoubare voedselstelsels.

Sy glo dat indien dit behoorlik gekommersialiseer word, inheemse voedsels ’n deurslaggewende rol kan speel om onsekerheid oor voedsel en voeding te verminder, veral in sub-Sahara-Afrika, terwyl dit tot meer gediversifiseerde diëte kan bydra.

Modjadji sê dat ten spyte van hulle potensiaal hierdie voedsels nie voldoende verstaan word en gedokumenteer word nie, wat die behoefte aan omvattende navorsing en erkenning van hulle voordele beklemtoon. Sy bepleit die etiese integrasie van inheemse voedsels in volhoubare en gesondevoedselstelsels deur hulle rol te beklemtoon in die ondersteuning van huidige diëte, veral in landelike Suid-Afrikaanse bevolkings.

“Inheemse voedsels, wat dikwels nie aandag in strategiese dokumente ontvang nie, is die sleutel tot die bevordering van voedselsekerheid, die uitwissing van armoede en die hantering van kwesbaarheid as gevolg van klimaatsverandering. Ons moet dus inheemse voedsels in beleidsprosedures insluit om dieetopsies vir gemarginaliseerde bevolkings uit te brei,” sê Modjadji.

NWU-meestersgraadstudent Modjadji Mandy Rasehlomi.

Submitted on Tue, 02/27/2024 - 15:17