Ingenieursvindingrykheid van NWU se superses

They are the best of the best … of the best, sir. Die vorige sin het wel sy oorsprong in die 1997-wetenskapfiksiekomedie Men in Black, maar dit is ’n onweerlegbare feit dat die sestal van Joshua van Zyl, Etienne Kruger, Niël Gertenbach, Jean du Toit, Rynhardt Engelbrecht en Henri Kock ’n megatrefferspan van ingenieurs uitmaak.

Hierdie ses NWU-studente het in Desember 2022 die People’s Prize in die gesogte Engineering Without Borders: Engineering for People se ontwerpuitdaging gewen en was algeheel tweede in die kompetisie.

Hulle wenlopie het reeds voor die kompetisie begin: hulle moes eers 43 ander spanne van die Fakulteit Ingenieurswese uitstof voordat hulle die mededingers in die res van die land kon aanvat.

Vir hulle inskrywing het die NWU-studente die uitdaging van voedselsekerheid in die Cape York-streek van Australië aangepak.

Hulle projek het ’n akwaponikastelsel vir die streek voorgestel. Hulle het die stelsel Aquamundi genoem, wat ’n samesmelting van die woorde “aquaponics” en “barramundi” is. Laasgenoemde is die visse wat hulle by die akwaponikastelsel wil voeg.

Akwaponika is ’n unieke en volhoubare metode vir voedselproduksie wat akwakultuur (die teel van visse) met hidroponika (die kweek van plante in water) kombineer.

Die hoofsaak van die kompetisie

Alle derdejaar-ingenieurstudente by die NWU neem ’n module genaamd “Ingenieurswese in konteks, plaaslik en internasionaal (Engineering in context, local and international)”. ’n Deel van die uitkomste van hierdie module is om deel te neem aan die internasionale ontwerpuitdaging soos dit deur Engineering Without Borders voorgeskryf word.

“Ons studente ondersoek in groepe van ses die ingenieursuitdagings van ’n bepaalde internasionale gemeenskap,” verduidelik Hannes du Toit, senior projekbestuurder by die Fakulteit Ingenieurswese.

Nadat hulle agtergrondinligting en gevallestudies oor ’n spesifieke gemeenskap ontvang het, het die studente die vryheid om ’n bepaalde onderwerp te identifiseer wat hulle wil hanteer.

Hulle kan byvoorbeeld op herwinning fokus, of op die verbetering van infrastruktuur, en ingenieursvaardighede gebruik om die kwessies op te los. Hulle kan ook ’n paar onderwerpe kombineer, byvoorbeeld om afval in nuttige produkte te omskep om paaie te bou, en só werk te skep. Dit is ’n oop probleem om op te los en maak op die kreatiwiteit van die studente staat,” verduidelik Hannes.

Die wenkombinasie wat die oorwinning verseker het

“Die wen van die Engineering for People-prys en die algehele tweede plek in die kompetisie toon die kreatiwiteit van ons span en hulle vermoë om die teorie van klasbesprekings op verskillende

onderwerpe toe te pas. Dit toon ook hulle vasberadenheid om met ’n praktiese, uitvoerbare plan ’n werklike verskil in die gemeenskap te maak.

“Hulle spanwerk was ook ’n X-faktor. Al ses die spanlede was toegewyd en het ’n bydrae tot hulle oorwinning gelewer.

“Dit was groot pret en hulle het al die reëls noukeurig nagekom. Die span het selfvertroue gehad, ’n deeglike aanbieding gelewer, was goed voorbereid en kon al die vrae van die beoordelaars beantwoord. Hulle het ook ’n wonderlike humorsin gehad wat die beoordelaars se aandag behou het,” sê Hannes.

Knap gedaan, manne

In wat seker as een van die beste getuigskrifte beskou kan word, sê Hannes dat indien hy sy eie raadgewende ingenieursonderneming gehad het, hy die hele NWU-span in diens sou neem om dit te bedryf.

“Hulle is uiters indiensneembaar en sal vir enige maatskappy ’n aanwins wees met hulle energie, toewyding, gehalte van hulle werk en die nakom van spertye.

“Hulle is almal vanjaar finalejaarstudente en die ingenieursberoep gaan volgende jaar vars, briljante, gebalanseerde ingenieurs kry om in diens te neem. Ek hoop die bedryf gaan sulke talent waardeer.”

Oplossings: daar is nie ’n pasklaaroplossing vir almal nie

Hannes sê verder dat ingenieurswese binne konteks baie belangrik is.

“As ’n ingenieur moet jy die gemeenskap dien en sensitief wees vir die oortuigings, kultuur en gemeenskapsdinamiek voordat jy ’n oplossing voorstel.”

Hannes sê die internasionale Engineering Without Borders-span besluit op die gebied waarop die mededingende spanne in die kompetisie moet fokus.

“Hulle het drie jaar gelede ’n woongebied in die suide van Johannesburg gebruik. Twee jaar gelede het die uitdaging op ’n area in Peru gefokus, en verlede jaar moes al die spanne oplossings vir die Cape York-gebied in Australië vind.

“Die ooreenkomste ten opsigte van armoede in al die lande stem in ’n mate ooreen, maar wanneer daar ’n kultuur bykom, raak dit uiters moeilik om dieselfde oplossings internasionaal voor te skryf.”

 

....

Die room van die ingenieurswese-oes … die bekroonde studente is van links Jean du Toit, Niël Gertenbach, Etienne Kruger, Henri Kock, Joshua van Zyl en Rynhardt Engelbrecht.

 

....

Hannes du Toit is ’n projekbestuurder in die Fakulteit Ingenieurswese

Submitted on Thu, 03/09/2023 - 15:30