Indrukwekkende innovasies staan uit tydens Leopards Lair-kompetisie

Die indrukwekkende innovasies van die studente van die Noordwes-Universiteit (NWU) het uitgestaan tydens die onlangse Leopards Lair-kompetisie en het vir die innoveerders welverdiende erkenning en gesogte pryse besorg.

Dit was hierdie jaar die NWU se sesde Leopards Lair-kompetisie. Dit word jaarliks gehou om studente-entrepreneurskap aan te moedig en te ondersteun.

Mothekgi Maruman, ’n honneursgraadstudent in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, en Tshegofatso Modisakeng, ’n voorgraadse student van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurwetenskappe, het die eerste plek in onderskeidelik die nagraadse en voorgraadse kategorieë behaal.

Yolandé Bullock, die kantoor- en gehaltebestuurder by die NWU se Tegnologie-oordrag en Innovasie-ondersteuningskantoor (TTIS), sê die kompetisie is ’n gesamentlike poging tussen die besigheidsontwikkelingsafdeling van die bhive Ondernemingsontwikkelingsentrum (OOS) en die NWU se TTIS.

“Die kompetisie verskaf ’n betekenisvolle leerervaring vir die NWU-studente wat graag nuwe ondernemings tot stand wil bring as ’n alternatief tot tradisionele indiensneming, of as ’n manier om eerstehandse sakeontwikkelingservaring te kry.”

Tot boaan die Leopards Lair

“Die kompetisie vind oor drie rondtes plaas, waartydens die beste inskrywings geïdentifiseer word,” verduidelik mev Annelie Steenkamp, senior projekadministrateur by die bhive OOS, wat die Leopards Lair-program bestuur.

Die eerste rondte behels dat NWU-studente hulle besigheidsidees, unieke verkooppunte en hulpbronne deur middel van ’n inskrywingsvorm voorlê. Tydens hierdie rondte kies die beoordelaars die inskrywings van 20 studente van elke kampus wat dan na die volgende rondte deurdring.

Tydens die tweede rondte woon die semifinaliste twee werkswinkels by. Hierdie werkswinkels is die Idea to Concept Development-werkswinkel en die Business Model Generation-werkswinkel. Hierna moet die studente hulle besigheidsmodelle indien, wat dan deur ’n paneel van die bhive OOS geëvalueer word. Tien studente per kampus dring na die volgende rondte deur.

In die derde rondte woon die deelnemers ’n groepaanbieding-vaardigheidsopleidingsessie by, gevolg deur  een-tot-een-sessies waar ’n voorlegging gedoen word om die finaliste te help om hulle voorleggings af te rond. Dit loop uit op ’n uiteindelike finale voorleggingskompetisie van die topvyf in elke kategorie voor ’n paneel van kundige beoordelaars.

Die wenners se pryse sluit saaibefondsing in om hulle besighede mee te ontwikkel, en bhive OOS-besigheidsontwikkeling (van ses tot 12 maande, afhangende van die wenvolgorde).

“Ons is werklik opgewonde oor volgende jaar en sien uit die opwindende projekte wat die studente-entrepreneurs gaan indien,” sê dr Janine Chantson, hoofdirekteur van die TTIS, wat ’n vername borg van die inisiatief vir hierdie jaar was. 

Vir meer inligting oor die Leopards Lair-kompetisie, besoek: Home | Commerce (nwu.ac.za)

Moedig studente-entrepreneurskap aan

Leopards Lair is maar een van die NWU se inisiatiewe om entrepreneurskap en innovasie te bevorder.

Nog ’n inisiatief wat deur die NWU se TTIS en die bhive OOS georganiseer is, is die Markdag, wat tydens die NWU se Studente-entrepreneursweek (25 Oktober in Vanderbjilpark en 26 Oktober in Potchefstroom) gehou is om entrepreneurs aan te moedig om hulle items te verkoop. Uitstallers het ’n reeks produkte aangebied, wat handgemaakte items, en skoonheids- en gesondheids- en welstandsprodukte ingesluit het.   

En die wenners is … (Johann Landsberg, bestuurder van die bhive OOS, het die pryse aan die wenners oorhandig.)

Mothekgi Maruma, ’n honneursgraadstudent in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, het met sy inskrywing, Supersight.co.za, die eerste plek in die nagraadse kategorie ingepalm.

In die nagraadse kategorie was Paula Maseko, ’n meestersgraadstudent in die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe, tweede met die Hydra Comb-inskrywing, en Almaro de Villiers, ’n meestersgraadstudent in die Fakulteit Ingenieurswese, was derde met sy spesiaal-gemaakte koekiedrukkers.

Tshegofatso Modisakeng van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het met Midgets World die eerste plek in die voorgraadse kategorie verwerf.

PJ Linde van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en Lungile Maseko van die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe was onderskeidelik tweede en derde in die voorgraadse kategorie met hulle inskrywings – ’n draagbare motorwastoestel (PJ) en Tutor Me (Lungile).

Submitted on Tue, 11/22/2022 - 12:21