Die skouspelagtige poollig, ook bekend as die Suiderlig, wat op 10 en 11 Mei waargeneem is toe ’n sonstorm ’n invloed op die Aarde gehad het, is regoor die suidelike halfrond waargeneem – insluitend in Suider-Afrika op plekke soos Gansbaai asook in Namibië.
’n Span navorsers van die Noordwes-Universiteit (NWU) het hierdie seldsame en geskiedkundige gebeurtenis met behulp van die universiteit se sonteleskoop-sterrewag op die Potchefstroomkampus vasgevang.
Hierdie sterrewag teken daagliks sonaktiwiteit aan, en op die NWU se Ope Dag op 4 Mei het twee navorsers en ’n student van die Sentrum vir Ruimtenavorsing aan die NWU ’n besonder aktiewe streek gesien toe hulle hulle waarnemings gedoen het.
Dr Ruhann Steyn en meestersgraadstudent Calmay Lee het besluit om as deel van ’n demonstrasie aan voornemende studente en hulle ouers die teleskope te fokus op waar die aktiwiteit waargeneem is.
Op daardie stadium was hulle nie bewus dat hulle besig was om een van die grootste aktiewe streke in die moderne geskiedenis op te neem nie. Gedurende die volgende week het die span hulle aandag op die aktiewe streek (AR 3664 in die beeld) gefokus terwyl dit verskeie groot sonvlamme geproduseer het wat die poollig veroorsaak het.
Calmay het ’n groot sonvlam opgeteken wat in reële tyd om 09:00 op 11 Mei deur AR 3664 geproduseer is – ’n buitengewone gebeurtenis om op die NWU se sonteleskoop vasgevang te word.
“Hoewel AR 3664 nou buite sig beweeg het, produseer dit steeds sonvlamme,” sê dr Steyn.
Hy sê hoewel ’n herhaling van die poolligte wat in Suid-Afrika gesien is, nie verwag word nie, sal die span voortgaan om die aktiewe streke dop te hou met die hoop om meer oor die Son te leer, en oor die prosesse wat sulke pragtige verskynsels hier op aarde veroorsaak het, en wat tot op hede nog so swak verstaan word.
Grootste sonstorm in meer as twee dekades
Op die aand van 10 Mei en vroeë oggend van 11 Mei is mense in baie dele van die wêreld vergas met ’n gesig wat baie selde buite die poolstreke gesien word.
Die poollig was die gevolg van ’n sonvlam wat energiedeeltjies vanaf die Son met die Son se magneetveld langs na die Aarde gestuur het. Van die deeltjies kom in aanraking met die Aarde se magneetveld en word dan na die Suid- en Noordpool vervoer.
Die deeltjies bots met suurstof- en stikstofatome in die Aarde se atmosfeer, en straal lig met ’n bepaalde kleur uit, afhangend van of dit met óf ’n suurstof- óf ’n stikstofatoom gebots het,” verduidelik dr Steyn.
Hy sê die meeste waarnemings van die poollig in Suid-Afrika was rooi, wat beteken dat hierdie botsings hoofsaaklik met suurstofatome by ’n hoogte van tussen 240 en 450 km bokant die oppervlak van die Aarde plaasgevind het.
Op 10 Mei het AR 3664 meer as 200 000 km regoor die sonskyf gespan. “Om ’n mens ’n idee te gee oor die omvang van hierdie streek: dit is gelyk aan meer as 15 keer die deursnee van die Aarde.”
Prof Eugene Engelbrecht van die NWU se Sentrum vir Ruimtenavorsing sê die voorkoms van sonvlamme is nie ongewoon nie, aangesien sonaktiwiteit oor die afgelope vyf jaar toegeneem het, met die Son wat die piek van sy gewone 11-jaar-sonsiklus nader.
“Wat hierdie keer anders was, was die grootte van hierdie bepaalde vlam, saam met die blote grootte van die aktiewe streek waarvandaan dit gekom het,” het hy afgesluit.
Luister na dr Steyn se verduideliking van hierdie seldsame en geskiedkundige gebeurtenis
Die linkerkantste beeld toon ’n gedeelte van die sonskyf met AR 3664 (binne in die blokkie). Wit vuurtonge kan om die rand van die Son gesien word. Die regterkantste beeld zoem in op AR 3664. Op die beeld kan verskillende verskynsels maklik met die NWU se sonteleskoop gesien word. Van hulle is sonvlekke, wat streke is wat voorkom wanneer die Son se magneetveld baie sterk is – hulle lyk donkerder as gevolg van koeler temperature. ’n Mens kan ook die komplekse strukture rondom elke sonvlek sien.