Indiensnemingstendense is bemoedigend, maar die struikelblokke bly groot

Die verdere geringe afname in Suid-Afrika se werkloosheidskoers tot 31,9% in die derde kwartaal van 2023 is goeie nuus, en die feit dat totale indiensneming nou terug is op voorpandemievlakke word verwelkom.

Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, het kommentaar gelewer op die derde kwartaal van 2023 se kwartaallikse arbeidsmagopname (QLFS) deur Stats SA, wat op 15 November vrygestel is.  Hy sê die ekonomiese sektorale leiers in werkskepping, soos landbou en maatskaplike dienste, het die nalopers soos vervaardiging en mynbou – wat beduidende werksverliese getoon het – geklop, en daarom is daar ’n algehele netto wins in indiensneming in die derde kwartaal van 2023.

“Die agterblywende sektore het duidelik die vernaamste las van die chroniese Eskom-beurtkrag op hulle ekonomiese aktiwiteite gedra. Energiesekerheid en werksekerheid bly klaarblyklik interafhanklik in Suid-Afrika,” sê prof Parsons.

Hy wys daarop dat hoewel indiensnemingstendense in die derde kwartaal van 2023 bemoedigend is, die struikelblokke tot arbeidsryke groei in die tydperk wat voorlê, baie groot bly.

“Suid-Afrika het ekonomiese groei van ten minste 3% nodig om werkloosheid in die medium termyn betekenisvol te verminder – baie meer as die matige 1% tot 1,5% in die onlangse Mediumtermynbegroting voorspel is.”

Volgens prof Parsons word daar vereis dat die tempo van ekonomiese hervorming, groeivriendelike beleide en infrastruktuurprojekte verhaas word om ’n groot verskil in die steeds hoë strukturele werkloosheid te maak.

“Solank as wat die arbeidsmag voortgaan om groter te word as die netto werkskepping, is baie hoër inklusiewe ekonomiese groei nodig om werkloosheid in Suid-Afrika vinnig te verminder,” sluit hy af.

Submitted on Wed, 11/15/2023 - 10:29