Impak van voedingsprojek gaan deur leierskapsontwikkeling voort

Die werklike betekenis van ’n projek kan dikwels gemeet word aan die volhoubaarheid daarvan lank nadat dit voltooi is. Kundiges van die Noordwes-Universiteit (NWU) maak betekenisvolle bydraes in Nigerië as deel van die heel grootste belegging in voedingleierskapsontwikkeling in Afrika tot op hede. Hulle doelwit is nou om die voetspoor van die projek uit te brei lank nadat dit reeds voltooi is.

Personeel van die Skool vir Fisiologie, Voeding en Verbruikerswetenskappe en die Sentrum van Uitnemendheid vir Voeding (CEN) het onverpoosd saam met hulle ampsgenote in die Nigeriese akademiese sektor gewerk om die volhoubaarheid van die projek, Leadership Development for Accelerated Progress in Nutrition in Nigeria (LEDA-NN), te verseker.

LEDA-NN is ’n program in leierskapsontwikkeling ter waarde van R20 miljoen wat deur die Bill en Melinda Gates-stigting befonds word, en wat die grootste belegging in voedingleierskapsontwikkeling op die Afrika-vasteland is wat nog ooit gemaak is.

Prof Johann Jerling van CEN sê die versekering van die volhoubaarheid van die impak van die projek bou op die ervaring van personeellede in die Voeding-departement van die Skool vir Fisiologie, Voeding en Verbruikerswetenskappe wat al die afgelope vier jaar leierskapsontwikkeling doelbewus in hulle voorgraadse Dieetkunde-kurrikulum ingebou het.

Volgens dr Cornelia Conradie, die projekleier, het die lesse wat hulle uit hulle eie inisiatiewe in voeding, saam met hulle ervaring van die NWU se Afrika-leierskapsprogram (ANLP), geleer het, hulle met passie en insig vervul om ’n leierskapskursus vir nagraadse studente te ontwikkel wat sal voortgaan lank nadat die LEDA-NN-projek voltooi is.

By ’n onlangse werkswinkel in Lagos, Nigerië, wat deur dr Conradie en prof Robin Dolman-Macleod aangebied is, het ses Nigeriese universiteite hulle daartoe verbind om volgende jaar hierdie leierskapskursus by hulle nagraadse Voeding-kurrikulum in te sluit. Daarbenewens het die NWU se samewerking met die Universiteit van Ghana, met prof Dolman-Macleod aan die hoof, ook hulle belangstelling uitgespreek om deel van hierdie baanbrekerinisiatief te wees.

Dr Conradie sê dat hulle die kursus in leierskapsontwikkeling nou aanvanklik op doktorale vlak gaan aanbied, maar die belangstelling om dit op voorgraadse vlak te doen, is amper oorweldigend.

“Die volgende fase van die projek gaan wees om te bepaal hoe leierskapsontwikkeling met sukses binne die voorgraadse kurrikulum ingebou kan word sonder om die krediete te vermeerder, en deur groot studentegroepe in ag te neem.”

Sy sê dit is geweldig bevredigend om te sien hoe hulle pogings in Onderrig en Leer ’n impak het en op ’n internasionale vlak ’n indruk maak.

“Die oorkoepelende doelwit van hierdie projek is dat dit ’n beduidende impak op die voedingstatus van vroue en kinders regoor die vasteland moet hê.”

Prof Jerling sluit af deur te sê dat die vordering met die LEDA-NN-projek tot dusver net nog ’n stap is om hulle visie te vervul en te verseker dat leierskapsontwikkeling ’n deel van die opleiding van voedingskundiges regoor die Afrika-vasteland sal vorm. “Daarmee berei ons hulle beter vir die werkplek voor.”

...

Submitted on Fri, 05/26/2023 - 09:28